Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Koevoetlid gedenk, vriende woedend oor vals FB-inskrywing
Die kennisgewing van Chris Barnard se gedenkdiens. Foto: Facebook

Die vermoorde oud-Koevoetlid se Facebookblad word oorvloei met woedende en hartseer boodskappe, nadat mense besef het dat ’n plasing op 17 Desember 2019 namens Chris Barnard (54) gemaak is, nadat hy reeds vermoor is.

Die plasing lees: “Wonder soms oor my doel op aarde”.

Sy vriende het, na die nuus van Barnard se verdwyning, heftig hierop gereageer, toe hul besef het dat dit nie sy skrywe kon wees nie.

Dit, sowel as WhatsApp-boodskappe vanaf sy foon wat ook heeltemal teenstrydig met Barnard se persoonlikheid is, het sy familie aanvanklik snuf in die neus laat kry dat alles nie pluis is nie.

Die vermoede is dat die moordenaars, soos met die selfoonboodskappe, die indruk wou skep dat Barnard nog lewe en/of ’n “alibi” vir sy verdwyning wou skep.

Drie verdagtes, Corné de Beer, Richardt (Jagter) Botha en Wayne van der Walt is reeds in hegtenis geneem op aanklagte van moord, huisbraak en diefstal, sowel as die diefstal van Barnard se voertuig. Hulle is steeds in aanhouding.

’n Gedenkdiens word Saterdag vir Barnard gehou, nadat sy oorskot verlede week na byna twee maande se soektogte gevind is.

Van die plasings op Chris Barnard se Facebook. Die inskrywing is vermoedelik deur die moordenaars gemaak nadat hy reeds dood is. Foto: Facebook

Barnard is vermoedelik vermoor kort nadat hy vanaf Irak na Suid-Afrika gekom het vir vakansie.

Een van sy laaste Facebook-inskrywings was op 30 November 2019 wat lees dat hy vanaf Basra- internasionale lughawe in Irak, op pad is na Pretoria.

Hy het op 1 Desember geland.

Op 5 Desember het hy ’n meisie wat hom op sosiale media bevriend het terwyl hy vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy in Irak werk, ontmoet.

Luidens die gedenkdiens-briefie is hy op 7 Desember vermoor.

Die man, wat talle vriende en oudkollegas beskryf as fors, joviaal en “onverskrokke”, se oorskot is op 4 Februarie die jaar in ’n veld in die Wallmansthal-omgewing, noord van Pretoria, gevind, toegedraai in ’n nou-verslete duvet, soortgelyk aan een wat destyds uit die huis verdwyn het waar hy tydens sy vakansie tuisgegaan het.

Barnard, oor wie talle staaltjies vertel oor hoe hy hul lewens tydens sy Koevoet-dae gered het, is die volgende dag met die hulp van tandheelkundige rekords en ’n tatoeëermerk op sy rug met die naam van sy dogtertjie geïdentifiseer.

Die polisie wag nog vir die lykskouingsverslag wat die oorsaak van sy dood sal bepaal.

Barnard se familie het kort daarna gesê dat hulle ten minste nou iets het om te begrawe en hopelik met ’n rouproses kan begin.

Dié afskeidsdiens sal op 15 Februarie by die Centurion-teater te Amkor-weg 123 in Lyttelton Manor gehou word.

Dit begin om 11:00.

Die Facebook-inskrywing is gemaak toe hy nog gelewe het. Foto: Facebook

Meer oor:  Chris Barnard  |  Pretoria  |  Irak  |  Gedenkdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.