Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Kokkedoor in ernstige motorongeluk
LeRoux van Vuuren in die hospitaal in Worcester, waar hy vir weke sal moet bly ná ’n motorongeluk. Foto: Facebook
LeRoux van Vuuren word per ambulans hospitaal toe geneem na sy ongeluk. Foto: Facebook
LeRoux van Vuuren sê die een les wat hy geleer het, is dat mens nie meer bestellings vir melkterte moet vat as wat jy kan aflewer nie.Foto: Facebook

LeRoux van Vuuren, oud-Kokkedoor en koskenner, wou deurnag tussen Pretoria en Kaapstad ry om melkterte af te lewer toe hy sy oë net vir ’n paar sekondes agter die stuurwiel toegemaak het.

Nou lê Van Vuuren in ’n hospitaal in Worcester in die Wes-Kaap. Sy bekkenbeen is gebreek en hy sal vir vyf tot ses weke daar moet bly.

Maar Van Vuuren werk steeds aan ’n plan om geld in te samel vir sy seun se droom-rugbytoer – al kan hy nou nie meer melkterte bak en aflewer nie

Van Vuuren het Vrydag uit sy hospitaalbed gesê hy en ’n vriend, Eric Blaauw, het Dinsdagmiddag van Pretoria na Kaapstad begin ry. Hulle het streng daarby gehou om elke twee uur om te ruil, juis om moegheid agter die stuurwiel te vermy.

In die vroeë oggendure van Woensdag was Van Vuuren agter die stuurwiel toe hy so ’n paar kilometer voor Laingsburg sy oë vir enkele sekondes toegemaak het.

Die Nissan Livina wat hy bestuur het, het die pad verlaat en gerol. Behalwe dat Van Vuuren se gesig beseer is toe die lugsak oopgegaan het, is hy uit die voertuig geslinger.

Hy sê hy was eers bewusteloos en Blaauw het hom die hele tyd probeer bybring en wakker hou. Die eerste motor het eers 20 minute later verbygekom, waarna hulle op die toneel gehelp is.

Van Vuuren se bekkenbeen is gebreek en hy is steeds in erge pyn. Hy word Maandag geopereer.

“Nou kan ek nie meer melkterte bak om geld in te samel vir my seun se rugbytoer nie. Ek kan nie eens loop nie en sal met fisioterapie moet oefen om weer te loop,” sê Van Vuuren.

Maar hy laat hom nie onderkry nie en sê alles gebeur met ’n doel. Sy gewese vrou, Estelle, en hul twee kinders, C.J. (15) en Ella (14), gaan die naweek vir hom in die hospitaal kuier.

Van Vuuren sê met ’n glimlag die een les wat hy geleer het, is dat ’n mens nie meer melkterte op bestelling moet belowe as wat jy kan aflewer nie.

Meer oor:  Leroux Van Vuuren  |  Motorongeluk  |  Kokkedoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.