Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Lionsspeler se ma oorlede
Ina Hollenbach (61) van Klerksdorp is Sondag in Bloemfontein oorlede. Foto: VERSKAF

Sy los ’n leemte wat nooit gevul kan word nie.

So het die oudrugbyspeler Alwyn Hollenbach (35) Sondagmiddag gesê nadat sy ma, Ina (61), gesterf het net meer as ’n week nadat ’n aneurisme in haar brein gebars het.

Ina Hollenbach is Sondagoggend net ná 06:00 in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorlede.

Alwyn, wat as senter vir die Lions-rugbyspan uitgedraf het, moes in 2015 uittree weens ’n rits beserings. Hy het tussen 2005 en 2009 vir die Vrystaat Cheetahs uitgedraf.

Die oudrugbyspeler Alwyn Hollenbach (35) en sy ma, Ina (61). Foto: FACEBOOK/Alwyn Hollenbach

Ina en haar vriend, André du Plessis, het Vrydag 9 Oktober by haar dogter, Yolande van der Meulen, in Hoopstad gekuier toe sy skielik ’n ontsettende hoofpyn gekry het.

"Hulle het die een oomblik nog gesels, toe gryp sy haar kop vas en sê dit voel of haar kop gaan ontplof. Sy het gesê sy het nog nooit só ’n erge hoofpyn gehad nie," het Alwyn Sondagmiddag aan Netwerk24 gesê.

Hy sê sy ma het probeer opstaan, maar kon nie en Du Plessis het haar na ’n kamer toe gehelp. "Sy het gesê sy voel baie sleg en sy het moeilik begin praat."

Hennie van der Meulen, haar skoonseun, en Du Plessis het haar na ’n dokter gehaas. "Oppad soontoe het haar hart gaan staan, maar oom André kon met noodhulp haar bybring."

Die dokter in Hoopstad het gesê sy het vermoedelik ’n beroerte gehad en sy moet onmiddellik na ’n hospitaal geneem word. ’n Ambulans het haar Bloemfontein toe gehaas.

Ina Hollenbach (61) by haar seun, Alwyn (35), 'n oudrugbyspeler. Foto: FACEBOOK/Alwyn Hollenbach

"Sowat 30 km buite Bloemfontein het haar hart weer gaan staan, maar die paramedici het haar weer bygebring." Toetse het bevind ’n aneurisme in haar brein het gebars, wat bloeding op die brein veroorsaak het. Sy was sedertdien in die Life Rosepark-hospitaal.

"My liefste mamma het vanoggend haar laaste asem uitgeblaas. Sy is nou pynvry by die voete van God. Totsiens my liefste moedertjie," het Alwyn Sondagoggend op sy Facebookblad geskryf.

Ina was die vise-rektor aan die Vuselela TVET-kollege se Taung-kampus in Klerksdorp.

"My ma sou oor twee jaar afgetree het," sê Alwyn.

Hy het enkele dae nadat sy ma in die hospitaal in Bloemfontein opgeneem is op Facebook geskryf: "My wêreld het tot stilstand gekom. Ma is die sterkste vrou wat ek ken, niks kan Ma onderkry nie."

Hy het haar gevra om "vas te byt, want daar is nog soveel wat ons saam moet doen".

Ina laat nog twee seuns, Schalk en Gunter, en sewe kleinkinders agter. Sy en haar kinders se pa is jare gelede geskei.

Geen begrafnisreëlings is bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.