Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-predikantsvrou sterf op staproete

’n Oudpredikantsvrou van die NG gemeente Stellenberg in Bellville is dood nadat sy op ’n staproete buite Barrydale beseer is. Haar man het egter vergeefs na haar gesoek omdat hy nie haar motor, wat na bewering by die parkeerplek naby die staproete gesteel is, kon vind nie.

Die stapper, Erna Gericke (66), en haar man, die oudleraar Bremer Gericke, was van 1981 tot 2017 die predikantspaar by die NG kerk Stellenberg. Hulle het in Barrydale afgetree.

Hierdie foto van Erna en Bremer Gericke is Dinsdag in ’n boodskap van die NG gemeente Stellenberg gepubliseer. Foto: Verskaf

Die kerk het Dinsdag in ’n e-pos gesê: “Dit is met groot hartseer dat ons bekend maak dat Erna Gericke, ds. Bremer Gericke (oudleraar) se vrou, op 21 Maart 2021 skielik van ons weggeneem is. Ons opregte meegevoel met Bremer en hul vier dogters, Florette, Karla, Magdel en Greta, asook hul skoonseuns en kleinkinders wat sy agterlaat. Geen reëlings rakende die roudiens is nog bekend nie.”

Ds. Marius Breytenbach, een van Stellenberg se huidige leraars, sê almal is baie geskok oor die voorval. “Hulle was meer as 30 jaar lank deel van die gemeente. Dit was hul leefwêreld. Hulle het hul kinders hier grootgemaak en van hul kleinkinders is ook nog hier. Hulle was ongelooflik lief vir stap. Sy was ’n baie kreatiewe mens en het die lewe mooi gemaak deur eenvoudige dinge.”

Volgens die polisie het Gericke Sondag omstreeks 14:00 gaan stap en haar motor op die parkeerterrein vir stappers naby Rondomskrik in Barrydale geparkeer. Toe sy om 18:00 steeds nie tuis was nie, het haar man haar by die polisie as vermis aangemeld.

Erna Gericke Foto: Verskaf

Prof. Matilda Burden, kultuurhistorikus en Gericke se skoonsuster, sê hulle vermoed ’n rots het op Gericke se een arm geval en ’n slagaar afgesny. Sy het alleen sonder haar gewone stapmaat gestap en nie ’n selfoon by haar gehad nie. “Sy het sowat 2 km teruggestap voordat sy vermoedelik haar bewussyn verloor het. Die polisie het ook ’n bebloede ‘buff’ gevind wat sy om haar arm gedraai het, waarskynlik om die bloeding te probeer stop.”

Volgens die polisie is ’n soektog van stapel gestuur. Maandag tussen 02:00 en 03:00 het lede van die soekgeselskap, onder wie Gericke se dogter Greta Gericke, op Gericke afgekom sowat 6 km ver op die Waterval-staproete. Sy was erg beseer. Paramedici het haar later dood verklaar. ’n Lykskouing sal gehou word. Tans word geen misdaad vermoed nie.

Inligting is opgevolg oor Gericke se motor, ’n Citroën-sedan, wat nie by die parkeerterrein was nie. Daar was tekens dat daar moontlik by die motor ingebreek is. Die polisie het vermoed dat die motor gesteel kan wees. Inligting oor die motor is deur die plaaswag en plaaslike veiligheidstrukture aan die polisie verskaf.

Die motor is later verlate agter ’n heuwel naby Tradouwhoek gevind. Die voorste regterkantste ruit was gebreek. Twee mans van 18 en 24 is in die omliggende plaasgebied in hegtenis geneem. Die motor se spaarsleutel is by een van hulle gekry. Hulle sal Woensdag in die landdroshof in Barrydale op ’n aanklag van motordiefstal verskyn, luidens die verklaring.

Volgens Burden het haar broer ure lank die berge gefynkam, maar nie geweet waar Gericke gaan stap het nie omdat hy nie haar motor kon vind nie. Hy het hul dogter (Greta) in Kaapstad gebel. Sy ken die berge en het deurgery. Volgens Burden het Greta dadelik geweet waarheen om te gaan en sy het haar ma gevind. Gericke het nog geleef, maar is kort daarna dood.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê in dié stadium is daar geen verband tussen die twee voorvalle nie, behalwe dat die motor aan Gericke behoort het. “Die uitslag van die lykskouing sal meer lig op die saak werp.”

Meer oor:  Erna Gericke  |  Barrydale  |  Besering  |  Staproete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.