Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-redakteur sterf

’n Oudredakteur van Rapport en bekende koerantman, Chris Moolman (79), is Vrydagoggend in sy huis in Durbanville oorlede.

Moolman was ook ’n oud-assistent-redakteur van Die Volksblad en Die Burger, en redakteur van die gewese Oosterlig. Hy was in die 1990’s redakteur van Rapport.

Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad , sê by navraag hy en Moolman was jare lank kollegas en het ’n lang pad saamgeloop en ’n noue band gehad.

Van links is Hennie van Deventer, Chris Moolman en Wiets Beukes op die ondertekening van die Verdrag van Nkomati tussen presidente PW Botha en Samora Machel van Mosambiek in die 1980’s. Beukes was toe redakteur van Die Burger, Moolman van Oosterlig en Van Deventer van Die Volksblad. Al drie was Volksbladders en in die 1960’s en 1970’s kollegas in Bloemfontein. Foto: Facebook/Hennie van Deventer

Van Deventer het in ’n huldeblyk geskryf Moolman, of Molie, soos hulle hom geken het, was in sy Volksblad-dae die Londense verteenwoordiger van Nasionale Pers se koerante.

Volgens Van Deventer was hy ’n vrugbare skrywer, meestal van spanningsverhale soos Sweepslag, Spertyd vir moord en Boereplaas, Moordgrond.

Hy het die ontstaan in die boek Van baster tot bielie opgeteken.

Hy was ook die skrywer van ’n humorboek met politieke staaltjies, Politieke Polfyntjies.Volgens Van Deventer onthou kollegas Moolman as ’n kranige joernalis – ’n knap, vinnige en harde werker – met ’n gesonde oordeel en eerbied vir die beste joernalistieke standaarde en waardes.

Hy sê Moolman se gesondheid was die laaste jare nie na wense nie. Hy het met sy hart gesukkel, ’n stryd teen kanker gevoer en het ná ’n beroerte nooit sy spraak en beweeglikheid ten volle herwin nie.

“Ek sal hom onthou as vertroueling en stimulerende gespreksgenoot. Tot voor grendeltyd het ons gereeld saam middagete geniet.”

Moolman word oorleef deur sy vrou, Debbie, en ’n dogter. Sy seun is enkele maande gelede oorlede.

Meer oor:  Chris Moolman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.