Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-SA'ner onder slagoffers toe 2 vliegtuie in Alaska bots

’n Suid-Afrikaner van geboorte tel onder die slagoffers van ’n lugongeluk nadat twee vliegtuie in die Amerikaanse deelstaat Alaska in mekaar vasgevlieg het.

alaska, vliegtuie, bots
'n Beseerde passasier word aan wal gebring nadat twee toeristevliegtuie Maandag in die lug oor die suidooste van Alaska teen mekaar gebots. Vyf mense is dood, nege beseer en twee nog vermis. Foto: AP

Louis J. Botha (46) is in Suid-Afrika gebore en het sedert 2017 in die noorde van San Diego, Kalifornië, gewoon, berig The San Diego Union Tribune. Botha se suster Elsa Wilk (37) en haar man, Ryan (38), van British Columbia in Kanada is ook onder die oorledenes, berig 2KTUU.

Die oorlewende vlieënier van die ongeluk waarin ses mense verlede week dood is, sê hy het ’n blits gesien kort voordat hy die ander vliegtuig getref het, luidens ’n voorlopige verslag wat die owerhede Woensdag uitgereik het.

Die ongeluk het op 13 Mei naby Ketchikan, ook bekend as die salmhoofstad van die wêreld en ’n gewilde toeristebestemming, gebeur. Die twee vliegtuie wat gebots het, ’n De Havilland Otter van Taquan Air en ’n De Havilland Beaver van Mountain Air Service, was op pad terug met vakansiegangers ná ’n besigtigingstoer na die Misty Fjords-nasionale monument in die Tongass-woud. Die vakansiegangers was van passasierskepe wat in die omgewing aandoen.

Die Otter se vlieënier het sy vliegtuig gedraai om vir die vakansiegangers ’n waterval te wys toe dit met die Beaver op 3 350 vt. (sowat 1 km) bo die grond bots, volgens die verslag. Daar was geen inligting oor ander lugverkeer wat moontlik ’n gevaar vir die Otter kon inhou nie.

Luidens die verslag kon die Otter-vlieënier ’n mate van beheer oor die vliegtuig behou en het die vliegtuig vyf sekondes later die water in die George-inloop getref. Die meeste van die Otter se wrakstukke het tot sowat 24 m onder die water weggesink. Die vlieënier, met ’n lugdiensvervoerlisensie, het net ligte beserings opgedoen terwyl nege van sy passasiers ernstige beserings opgedoen het. Een passasier is dood.

Die Beaver het in die lug reeds opgebreek en wrakstukke is later op die berghange, ’n strand en in die water gevind. Die kommersiële vlieënier en al vier die passasiers in dié vliegtuig is dood.

* Daar was onlangs nóg twee ander vliegtuigongelukke in die gebied.

’n Vlieënier en ’n epidemioloog is dood toe ’n ander Taquan Air-vliegtuig Maandag in die suidooste van Alaska ’n ongeluk gemaak het. Daardie vliegtuig, ook ’n Beaver, het by die inheemse nedersetting Metlakatla in die hawe in die water vasgevlieg.

Taquan Air bedien hoofsaaklik afgeleë gemeenskappe in suidoos-Alaska wat nie met paaie bereik kan word nie. Hulle het hul bedrywighede ná die tweede ongeluk opgeskort.

In die nadraai van die twee ongelukke het die onderneming in ’n verklaring op hul webwerf gesê hulle is “oorweldig en baie geskok”.

“Ons het vrywillig al ons bedrywighede opgeskort tot verdere kennisgewing.”

In die derde vliegongeluk in Alaska is een persoon dood toe ’n Cessna 185 Skywagon by Prince William-baai in die water geval het. Die Amerikaanse kuswag sê dit het Dinsdagmiddag sowat 30 km suid van die dorp Valdez gebeur. Nog twee mense is hierin beseer.

Die owerhede ondersoek al drie die ongelukke. Reuters

* Die berig is bygewerk nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Alaska  |  Vliegtuigongeluk  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.