Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oudbalju van Bloem sterf aan Covid-19

Ronnie Lingenfelder (69), oudbalju van Bloemfontein, is Dinsdag in die Life Rosepark-hospitaal aan Covid-19 dood.

Ronnie Lingenfelder en sy kleindogter, Ivy. Foto: Verskaf

Hy is op 28 Junie opgeneem en was sedert verlede week aan ’n ventilator gekoppel.

Lingenfelder het as ’n klerk by die spoorweë begin werk en was later jare lank die balju in Bloemfontein. Nadat hy as balju afgetree het, het hy saam met sy seun, Ruan, by Lingenfelder Wood Interiors gewerk.

In die laaste paar jaar het hy aan verskeie padwedlope en parkruns deelgeneem, waar hy menige jonge onder die stof kon hardloop.

Sy skoondogter, Melissa, ’n grafiese ontwerper van Bloemfontein, sê: “Ons harte huil en ons is steeds geskok dat hy nie meer hier is nie. Ons het geweet die moontlikheid is daar, maar die realiteit en finaliteit is baie hartseer.

“Ons was geseënd met ’n pa en oupa wat vir ons baie lief was en altyd daar was met hulp en raad en ’n grappie. Dit was baie spesiaal dat ons die laaste jare saam kon draf en parkruns doen.”

Dr. Ina Faber, jare lange vriendin van Lingenfelder, sê sy heengaan is tragies, want hy was so ’n fikse en aktiewe man.

“Hy was die beste vriend wat ’n mens kon hê. Hy was ’n harde werker en het altyd ’n plan gehad wanneer ’n krisis opduik, en hy kon enigiets doen – van kaste bou en voertuie diens tot naaldwerk doen. Hy het selfs sy dogter, Marizanne, se matriekafskeidrok gemaak.”

Marizanne was ’n hoofmeisie van die Hoërskool Fichardtpark. Sy en vier van haar geliefde Australiese skaaphonde is in 2018 deur ’n dronk bestuurder in Johannesburg doodgery.

Lingenfelder se vrou, Berna, is in 2014 ná ’n operasie dood.

Hy word oorleef deur sy seun, Ruan, skoondogter, Melissa, en twee kleinkinders, asook sy suster, Eileen Ackerman, en broer, Kevin Lingenfelder, albei van Bloemfontein.

'n Gedenkdiens vind Maandag om 11:00 in die Avbob-kapel in Krausestraat, Bloemfontein, plaas. – Saamgestel deur Cheréne Pienaar

Meer oor:  Bloemfontein  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.