Hy was ’n groot leier wat baie vir ander mense omgegee het.
So het oudkollegas en vriende Melford D. Notshokovu (73), ’n voormalige burgemeester van George, Donderdag ná sy skielike dood verlede Vrydag beskryf.

Melford D. Notshokovu Foto: Verskaf
Hy was gedurende die laat 1990’s George se burgemeester.
Langa Langa, ’n plaaslike ANC-raadslid, het by navraag gesê Notshokovu was nie lank siek nie. “Hy het nog bestuur en was baie aktief. Hy het die afgelope ruk van pyn gekla en is skielik dood.”
Die munisipaliteit het Notshokovu se dood in ’n verklaring betreur.
Volgens Leon van Wyk, die huidige burgemeester, was hy geskok om van Notshokovu se dood te hoor.
“Mnr. Notshokovu het ’n leidende rol gespeel in die oorgang na die geïntegreerde munisipaliteit wat dit vandag is, en ons eer sy bydrae tot George en die munisipaliteit. Die George-stadsraad en -administrasie betuig ons diepste medelye met sy familie en vriende, en deel in die pyn van hul verlies,” sê hy.
Volgens die munisipaliteit sal sy vlag buite die munisipale kantore in Yorkstraat ter herinnering aan Notshokovu halfstok hang.
Na verneem word, is ’n straat in die woonbuurt Lawaaikamp ook na Notshokovu genoem.
Langa sê ’n begrafnisdiens word Vrydag om 09:00 vanuit die Metodiste kerk in Thembalethu gehou. Notshokovu word deur sy vrou en agt kinders oorleef.