Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oudklasmaats van Bloem-skool verongeluk dae ná mekaar
Phillip Jackson, wat Sondagoggend in ’n motorongeluk op die Dealesvillepad oorlede is. Foto: Verskaf

Twee oudklasmaats van die Hoërskool President Steyn in Bloemfontein het net meer as ’n week uit mekaar verongeluk.

Phillip Jackson (20) is Sondag in die vroeë oggendure op ’n ongelukstoneel dood verklaar, terwyl sy oudklasmaat Franco Cloete (19) die vorige Saterdag in ’n motorfietsongeluk oorlede is. Cloete se roudiens was Vrydag in die Biker’s Church buite Bloemfontein.

Jackson en twee vriende, Michal Erasmus (21) en Ronaldo du Plessis (20), was Sondagoggend op pad na Dealesville toe dié ongeluk net duskant die Krugersdrifdam op die Bloemfonteinpad gebeur het, het Erasmus se ma, San-Marie, gesê.

Erasmus is Maandag uit die hospitaal ontslaan en sy toestand is stabiel. “Dit gaan goed, hy het net ’n vreeslike hou teen die kop gekry en ’n bietjie geheueverlies opgedoen. Hy het ook beserings aan sy rug – krapmerke en snye – en hy is baie geskok, maar hy is orraait.”

Volgens haar verkeer Du Plessis in ’n kritieke, maar stabiele toestand in die Life Rosepark-hospitaal se waakeenheid. Hy het glo die voertuig bestuur, het sy gesê.

Hannika Struwig, ’n hospitaalwoordvoerder, het bevestig dat Du Plessis Sondag in dié hospitaal opgeneem is, maar kon geen verdere inligting oor sy beserings en toestand verskaf nie.

Jackson en Erasmus was saam in die klas in die Landbouskool Hendrik Potgieter in Reddersburg en het saam rugby gespeel.

Jackson het in sy gr. 11-jaar van die Hoërskool President Steyn, waar hy en Cloete klasmaats was, na dié skool gegaan.

San-Marie, wat Jackson vir sy netjiese hare sal onthou, sê sy bid sy familie krag toe. “Ons gaan vir ou Phillip baie mis.”

Phillip Jackson het graag in die gimnasium geoefen.Foto: Verskaf

Jackson, het by sy ouboet, Dylan, in Bloemfontein gewoon.

Dylan beskryf hom as ’n opregte mens wat altyd wou hê almal moet gelukkig wees. Hy sê sy broer was baie lief daarvoor om in die gimnasium te oefen.

“Hy was ’n moerse inspirasie vir my.”

Dylan het ook op Facebook hulde aan hom gebring.

“Jy was ’n yster, Boeta. Alles wat ek in my lewe doen, sal vir jou wees,” lui die plasing.

Volgens Dylan is die reëlings vir ’n roudiens nog nie gefinaliseer nie, maar die diens sal na verwagting Saterdag wees. Jackson laat ook hul ma, Rosina, agter.

Die Landbouskool Hendrik Potgieter het Maandagoggend sy skok en hartseer oor Jackson se dood uitgespreek. Die skool het ’n oomblik van stilte vir hom gehou.

Roelf Meyer, hoof van die Hoërskool President Steyn, sê Jackson se dood is vir die skool baie sleg.

“Dis nou al die tweede oudleerling in ’n kwessie van ’n week . . . en ons het verlede jaar ook ons sekretaresse verloor.”

Voël Pretorius, onderwyser en afrigter van dié skool se eerste rugbyspan, het Jackson sowel as Cloete afgerig.

Hy het Jackson as ’n oulike seun, ’n begaafde rugbyspeler en ’n “skitterende kind” beskryf.

“Ek dink as hulle sy brein oopgesny het, sou daar ’n rugbybal binne-in wees.”

Marilize Marais, wat Jackson se register-onderwyser in gr. 11 in dié skool was, het gesê hy was ’n tipiese seun – “vol grappe en ’n bok vir sports”.

Phillip Jackson was ’n begaafde rugbyspeler. Foto: Verskaf
Phillip Jackson Foto: Verskaf

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.