Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oudminister staande toegejuig by Watson-diens
Nomvula Mokonyane, voormalige minister van omgewingsake, Vrydag op die gedenkdiens vir Gavin Watson in Roodepoort. Foto: Felix Dlangamandla

Die Watson-familie sal nes Jesus Christus vervolg word, want hulle het geglo in ’n regverdige samelewing. Só het Nomvula Mokonyane, ’n voormalige minister Vrydag in haar huldeblyk op die gedenkdiens vir Gavin Watson gesê.

Watson, die grootbaas van die eertydse Bosasa het Maandag in ’n maatskappymotor naby die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park aan die Oos-Rand verongeluk.

Mokonyane het op die gedenkdiens in die Little Falls Christian Centre in Roodepoort gesê: “Ons word vervolg, want ons het geglo in ’n regverdige samelewing. Viva Gavin Watson!”

Mokonyane, wat deur Bosasa-werknemers die “Energizer Bunny” gedoop is, is een van die geïmpliseerde staatslui in die Bosasa-skandaal.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig hoe hy self betrokke was om “gunste” aan Mokonyane, wat eers die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng was en later die minister van omgewingsake geword het, te lewer.

Sy het volgens sy getuienis in Bosasa-geld gerol.

Nomvula Mokonyane gesels met Linda Mti, die voormalige tronkehoof, wat aangekla word van tenderbedrog tussen Bosasa en die departement van korrektiewe dienste toe hy aan die stuur was. Foto: Felix Dlangamandla

Mokonyane het die bewerings voorheen ten sterkste ontken.

Gunste aan Mokonyane het volgens Agrizzi omkoopgeld van R50 000 per maand ingesluit. Mokonyane het volgens Agrizzi ook elke Desember ’n Krismisboks met onder meer kiste drank, lammers en honderde kilogram beesvleis en hoender ontvang.

Agrizzi het getuig die maatskappy het haar omgekoop omdat hulle gedink het sy het politieke invloed. Sy sou volgens hom vir Bosasa tenders kon besorg. Mokonyane se noue verbintenis met oudpres. Jacob Zuma sou volgens Agrizzi kon verseker dat sy by die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na Bosasa kon inmeng.

Agrizzi en Watson was glo telkens by Mokonyane se huis, wat hulle ook van tyd tot tyd namens haar opgradeer het.

Mokonyane het Vrydag in ’n vlootblou rok en bypassende kopdoek van die verhoog af gesê: “Ek sal julle nog vertel wat Gavin gedoen het. Ek sal julle ook vertel wat Agrizzi gedoen het. My tyd sal kom. Vir nou, as Gavin se oorskot in Port Elizabeth begrawe word, moet daar onthou word: Hy sal voortleef tussen ons. Koerante wil net koerante verkoop, maar jy hoor nie van Orange Farm nie.”

Mokonyane het verwys na Watson se liefdadigheidswerk in die suide van Johannesburg, wat die befondsing van minderbevoorregte dagsorgsentrums insluit.

Nomvula Mokonyane, oudminister, lewer Vrydag haar huldeblyk op Gavin Watson se gedenkdiens in Roodepoort. Foto: Felix Dlangamandla

“Geld het geen vriend nie en is boos. Gavin was nie ’n kapitalis nie. Hy was lief vir die lewe. Wat ons weet, is dat die oordeelsdag gaan kom. Die vernedering, waninligting en beledigings ... Jy (Watson) het nie gekies wat die Skepper met jou wou doen nie. Dankie dat julle die ANC ondersteun het. Dankie dat jy van die leiers na skool en universiteit gestuur het. Dat jy hulle kinders skool toe gevat het. Dankie dat julle na weerlose mense gekyk het. My tyd sal kom om my storie te vertel.”

Mokonyane het ook gesê Watson “het sy deel gedoen”. “Hy moet net rus en nie slaap nie, en ’n engel word ... Wees lief vir almal, maar vertrou niemand. Geestelik was jy ryker as hulle. Mag die engele jou verwelkom. Mag jou ouers jou aankoms in die hemel inwag. Goeie nag Gavin. Onthou om almal lief te hê, en niemand te vertrou nie.”

Mokonyane is staande toegejuig voordat sy die verhoog verlaat het.

Agrizzi het nie die gedenkdiens bygewoon nie.

Meer oor:  Gavin Watson  |  Nomvula Mokonyane  |  Bosasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.