Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oudpolisieman dood voor Haffejee-familie kan berus

Hoosen Haffejee se suster, Sarah, by ’n foto van haar broer. Foto: Nhlanhla Nkosi

"'n Geskiedenis van hartseer." 

Dit is hoe ’n prokureur die 42 jaar lange stryd om antwoorde beskryf van die familie van  dr. Hoosen Haffejee, 'n apartheidsaktivis wat in aanhouding dood is.  

Die familie het nog ’n terugslag beleef met die dood van kapt. James Taylor. Hy was een van die veiligheidspolisiebeamptes wat Haffejee in Augustus 1977 in hegtenis geneem en in die Brighton Beach-polisiekantoor ondervra het.  

Taylor is Maandag dood, enkele dae nadat Ronald Lamola, minister van justisie, aan die regterpresident van die hooggeregshof in Gauteng en KwaZulu-Natal geskryf het om te vra dat hulle regters aanwys vir geregtelike ondersoeke na die dood in aanhouding van Haffejee en dr. Neil Aggett.

Anwar Jessop, die prokureur wat die Haffajee-familie verteenwoordig, het aan News24 gesê dit is ’n hartseer verwikkeling.

“Dit is 'n tragedie en ’n bespotting van die gereg. Die familie is teleurgesteld dat dit soveel jare geneem het om te kom tot waar ons nou is.”

Hy het bygevoeg dat diegene wat verantwoordelik is vir die vertraging, met hul gewetens moet saamleef dat sommige mense nou gesterf het en nooit ondervra sal word nie.

Haffejee se ouers asook sy ouer broer is dood sonder om te weet presies wat met hom gebeur het.

Haffejee se suster, Sarah, nou in haar 70's asook broers- en susterskinders wag steeds op antwoorde. 

“Ek het met dr. Haffejee se suster gepraat vanoggend en sy was so verpletterd deur dié nuus, sy het gevra wanneer sal ons ooit geregtigheid sien?” sê Jessop.

“Ons wil seker maak dat ons antwoorde kry”

Jessop sê dat hulle steeds met die geregtelike ondersoek wil voortgaan.

“Ons wil seker maak dat ons die antwoorde kry vir die vrae wat oor baie jare gestel is.”

’n Landdros het bevind dat Haffejee, ’n 26-jarige tandarts, homself gehang het minder as 24 uur nadat hy in hegtenis geneem is.

Hy het ongeveer 60 wonde op sy lyf gehad, insluitend op sy rug, knieë, arms en kop.

Luidens 'n verslag van die Waarheids- en versoeningskommissie het Taylor en kapt. PL du Toit ontken dat hulle Haffajee tydens ondervraging gemartel het.  

Jessop sê hulle is oortuig dat hy nie sy eie lewe geneem het nie.

Hy glo die Ahmed Timol-saak bied hoop vir ander families in soortgelyke omstandighede.

Die dood van Timol, ’n onderwyser wat 49 jaar gelede dood is, is in 2016 herondersoek.

Jessop het gesê dit is belangrik dat Suid-Afrikaners weet dat mense van alle agtergronde hard vir demokrasie geveg het.

“Ek glo as ons dié (ondersoek) afhandel, sal dit die familie bietjie troos gee.”

Meer oor:  Ahmed Timol  |  Apartheid  |  Aktiviste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.