Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oudredakteur van ‘Cape Times’ dien klag in
Alide Dasnois buite die arbeidshof in Kaapstad op 9 Mei toe sy en die Independent-groep buite die hof geskik het. Foto: Edrea du Toit

Alide Dasnois, die voormalige redakteur van die Cape Times, het vandeesweek ’n klag van wangedrag teen Independent Media by die persombudsman ingedien.

Die klag hou verband met die manier waarop dié koerant die hofgeding en die daaropvolgende skikkingsooreenkoms tussen die twee partye hanteer het.

Dasnois en dr. Iqbal Survé, voorsitter van die maatskappy, het op 9 Mei – die dag waarop die saak in die arbeidshof in Kaapstad aangehoor sou word – geskik.

’n Deel van die ooreenkoms is as vertroulik bekragtig, terwyl die res in ’n gesamentlike verklaring deur die partye vervat is.

Dasnois is op 6 Desember 2013 deur Survé uit haar pos verwyder en in Julie 2014 finaal ná ’n tugverhoor afgedank.

Sy het toe ’n aansoek by die arbeidshof ingedien waarin sy R4 miljoen vir 38 maande se vergoeding van die maatskappy geëis het.

Een van die hoofredes wat aangevoer is vir haar ontslag is dat oudpres. Nelson Mandela se dood nie die koerant se hoofberig was nie, maar dat die nuus oor sy dood in ’n baadjie van vier bladsye rondom die koerant gedra is.

Die hoofberig van die koerant self was oor die bevindinge van die openbare beskermer (OB) oor ’n tender van R800 miljoen wat die departement van landbou, bosbou en visserye aan die Sekunjalo-konsortium toegeken het.

Die Sekunjalo-groep, nou bekend as African Equity Empowerment Investments, is ook die meerderheidsaandeelhouer in Independent Media, wat die Cape Times besit. Survé is ook die voorsitter van die Sekunjalo-groep.

Luidens die skikkingsverklaring het die koerantgroep erken dat die besluit oor hoe Madiba se dood hanteer is, die redakteur se besluit was om te neem en dat Dasnois nie die maatskappy leed probeer aandoen het met dié besluit nie.

Hulle het ook aantygings dat Dasnois rassisties was, teruggetrek.

Verder het die groep onderneem om sy ondersteuning van mediavryheid voort te sit.

Sowat vier uur nadat die skikking bekragtig is, het Survé ’n verklaring uitgereik waarin hy die teenoorgestelde aantygings maak as wat in die skikkingsverklaring staan. Hy blameer steeds Dasnois daarvoor dat die Cape Times “die enigste koerant in die land was” wat nie die dood van Madiba op sy voorblad gebruik het nie.

Hy het ook aangevoer Dasnois het persvryheid as ’n rookskerm gebruik vir die ware rede vir die hofgeding – finansiële gewin.

Dasnois het Donderdag bevestig sy het die klag by die persombudsman ingedien.

“Ons gaan niks van die inhoud bekend maak alvorens die ombudsman ’n beslissing gemaak het nie,” het sy gesê.

Dasnois se regsverteenwoordiger, Jason Whyte, het verlede maand aan Netwerk24 gesê ’n klag van wangedrag deur ’n maatskappy sal by die persombudsman ingedien word.

“Nadat die partye ooreengekom het om die saak finaal af te handel oor of Dasnois se afdanking regverdig was of nie, het hulle die debat weer begin – dieselfde debat wat hulle glo finaal afgehandel het,” het Whyte gesê.

Meer oor:  Alide Dasnois  |  Independent Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.