Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oudsportjoernalis Papalap ‘het ons lewe gevul’
‘n Foto van die oudjoernalis en rubriekskrywer Lappe Laubscher (regs op die foto) in die kapel in Pretoria waar ‘n roudiens vir Laubscher gehou is. Op die foto is sy seun, Joe, saam met hom. Links is Metro-Beeld se plakkaat wat Woensdag in Pretoria op straat was. Foto: Sarel van der Walt
‘n Foto van die oudjoernalis en rubriekskrywer Lappe Laubscher (links op die foto) in die kapel in Pretoria waar ‘n roudiens vir Laubscher gehou is. Op die foto is een van sy kleinkinders saam met hom. Foto: Sarel van der Walt

’n “Hartlike mens met ’n reusagtige persoonlikheid” is hoe Lappe Laubscher, oudsportjoernalis Donderdag in Pretoria onthou is.

“Ons almal was geseënd om Lappe te kon ken vir die mens wat hy was,” het dr. Toon van der Merwe, ’n gesinsvriend van die Laubschers, gesê.

Laubscher (72) is verlede Saterdagnag skielik oorlede.

Hy het vermoedelik aan ’n hartaanval gesterf. Laubscher het vir Rapport gewerk en was ’n gewilde rubriekskrywer van die Media24-streekskoerant Metro-Beeld-Noord (voorheen Tshwane-Beeld).

Die Skriflesing was uit Ps. 23 en Johannes 11.

“Lappe het altyd gesê sy lewe was een groot genade.

Hy was ’n uitgesproke en vriendelike mens wat ons lewe gevul het.

“Lappe is weg sonder om totsiens te sê!” het Van der Merwe met ’n glimlag gesê.

Laubscher, onder sy vriende bekend as Papalap, was ook bekend as ’n historikus met ’n uitgebreide kennis oor die Anglo-Boereoorlog en die geskiedenis van die Olimpiese Spele.

Hy het verskeie boeke oor dié twee onderwerpe geskryf en het die laaste paar jaar by Protea Boekhuis gewerk.

Laubscher het ook posseëls, poskaarte, en modelkarre bymekaar gemaak.

Van dié karre het op die preekstoel in die kapel van die Safari-tuinsentrum gestaan waar die dankdiens gehou is.

Die veteraan omroeper Heinrich Marnitz lewer Donderdag in Pretoria ‘n huldeblyk op die dankdiens vir die oudjoernalis en rubriekskrywer Lappe Laubscher. Foto: Sarel van der Walt

Op sy dag was Laubscher ook ’n stadsraadslid van Pretoria. Hy was ook ’n stigterslid van Pretoria se afval-gilde, ’n storieverteller van formaat en ’n “lopende ensiklopedie” wat aan radio- en televisieprogramme deelgeneem en onder meer ’n televisiereeks oor die geskiedenis van die Olimpiese Spele geskryf het.

Maar ook by tye ’n korrelkop met ’n sterk wil wat daarvan gehou het om mense uit te daag.

In die oë van sy vier kleinkinders was hy ’n held.

Talle bekendes uit die sportwêreld, die joernalistiek, die boekewêreld, die wêreld van die historici en oudstadsraadslede het die diens bygewoon.

Onder hulle was die oud-Springbokatleet Gert Potgieter, die voormalige Springbok-rugbykaptein Wynand Claassen, die veteraan-sportkommentator Heinrich Marnitz, die oudsportjoernaliste Herman le Roux, Harry Lombaard en Tobie Mostert, dr. Piet Muller, ’n voormalige adjunkredakteur van Beeld, die veteraansportfotograaf Wessel Oosthuizen, die voormalige atletiek-administrateur Henry Windell, die historikus dr. Jackie Grobler, dr. Nicol Stassen van Protea Boekhuis, en dr. Ernie Jacobson, ’n voormalige burgemeester van Pretoria.

Lillibeth Moolman, eertydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie, en suster van die bekende voormalige politieke joernalis wyle Freek Swart, ’n kollega van Laubscher, het ’n huldeblyk gelewer.

Die voormalige Rapport-gholfskrywer Tobie Mostert praat op die dankdiens vir die oudjoernalis en rubriekskrywer Lappe Laubscher in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Marnitz het in sy huldeblyk gesê Laubscher was “een van die ware manne”.

“Lappe het onafhanklik gedink. Hy het volgens sy eie onwrikbare oortuiging opgetree. Hy was skerp in sy analitiese oordeel. Tog was hy allermins ’n bakleier.”

As ’n sportjoernalis het hy nie gehuiwer om in die waarheid te delf nie.

“Lappe Laubscher se skaduwee hang wyd oor Pretoria,” het Marnitz gesê.

Mostert, wat baie jare lank Rapport se gholfskrywer was en later ’n gholfkommentator, het gesê Laubscher het hom geleer ’n sportjoernalis mag nie sporthelde hê nie “want jy moet ook krities teenoor hulle kan wees”.

Hy het na Laubscher se vrou, Liana, haar twee kinders, Joe en Bea, en die kleinkinders gedraai en gesê: “Liana-julle, die lewe gaan aan, maar dit sal nie meer dieselfde wees sonder Papalap nie.

Meer oor:  Huldeblyk  |  Joernalis  |  Afsterwe  |  Rubriekskrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.