Hulle lyk op ’n druppel na mekaar, trek nog altyd eenders aan, hul stemme klink dieselfde en hulle was albei verpleegsters.

Michael Landsman, stigter van Lesawell, ’n nieregeringsorganisasie wat bejaardes bystaan, by Catharina (Rina) Petronella Els en Gesina (Gesie) Kleynhans, die oudste tweeling in Winburg in die Vrystaat. Foto: Verskaf
Winburg se oudste tweeling, Catharina (Rina) Petronella Els en Gesina (Gesie) Kleynhans, wat op 7 Januarie hul 80ste verjaarsdag sal vier moet nou weens hul ouderdom elders rus vind en die dorp ná jare groet.
Hulle het die laaste vyf jaar saam op die dorp gewoon en diep in die hart van die gemeenskap gekruip.
“Dis vreeslik hartseer,” sê Els, wat in 1964 Winburg toe getrek het.
“Ek dink ons moet vanaand die brannas skink,” skerts suster Kleynhans, wat permanent van ’n suurstofmasjien afhanklik is.
Els het al vyf rugoperasies gehad en gaan by haar seun Pierre in Ladybrand woon en Kleynhans trek na haar dogter Claudine in Fort Beaufort in die Oos-Kaap.
Die susters is dit eens dat dit ’n fantastiese tyd saam was.
“Winburg se gemeenskap is een op sy eie. Hulle het my aanvaar net soos ek is,” sê Kleynhans, wat vyf jaar gelede na die dorp verhuis het.
Ná 80 jaar trek die susters steeds presies dieselfde klere, en selfs skoene aan. Inwoners het dikwels kop gekrap oor wie is wie.
“As ek gaan klere koop, koop ek vir ons albei, en so ook Rina,” sê Kleynhans.

Catharina (Rina) Petronella Els en Gesina (Gesie) Kleynhans as jong verpleegsters. Foto: Verskaf
Die tweeling is op Graaff-Reinet opgelei as verpleegsters en het daarna in ’n kraamsaal in Port Elizabeth gaan werk.
Daarna het hul paaie geskei en het hulle diep spore in Grahamstad, Oudtshoorn, Hammanskraal, Adelaide, Queenstown, Indwe, en nou Winburg getrap.
Die tweeling se opvolgers as die oudste tweeling in Winburg is Schalkie Rautenbach en Ben Labuschagne, 74.