“My liewe kind, so absoluut onverwags het die Here jou kom haal. Nou dwaal ons verslae in die huis rond en sit en ruik en vat aan alles wat joune is.”
So skryf Elmarie Stanz op haar Facebookblad ná die skielike dood van haar seun, Jandré (15), Dinsdag by die Hoërskool Ellisras in Lephalale.
Jandré het Dinsdagoggend met sy fiets by die skool aangekom en kort daarna op die paviljoen gaan sit.
A.L. Joubert, die hoof, sê Jandré het sy pa, Henk, gebel en gesê “hy voel gedehidreer” waarna sy pa gesê het hy moet dadelik vir die onderwysers om hulp vra.

Jandré Stanz (15) by sy suster, Ansoné, en ouers, Elmarie en Henk. Foto: Facebook/Elmarie Stanz
Hy het op die sportveld inmekaargesak en is dood nadat nooddienswerkers en twee dokters lank gesukkel het om hom by te bring. ’n Lykskouing moet nog gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Jandré sou Maandag sy 16de verjaardag gevier het.
Elmarie skryf in ’n roerende huldeblyk op Facebook: “Ons verstaan niks hiervan nie. Ons harte pyn. Maar ons weet deur dit alles die Here is daar en dit is so in Sy raadsplan 15 jaar terug al besluit. Ons berus by Sy wil.”

Jandré Stanz (15) van Lephalale is Dinsdag skielik dood. Foto: Facebook/Elmarie Stanz
Joubert sê Jandré het nie enige onderliggende siektetoestande gehad nie.
“Hy was ’n sprankelende kind. Hy was onlangs in ’n motorfietsongeluk en toe het ’n hond hom ook gebyt, maar hy het gesond geword en niks het hom ondergekry nie.”
Elmarie skryf verder: “Dankie vir die mooi kind wat jy was. Jy klink soos ’n legende soos die beriggies instroom oor jou vriendelikheid, nederigheid, hulpvaardigheid en groot omgeehart.”
Die Stanz-egpaar het ook ’n ouer dogter, Ansoné.
“Jy sal vir altyd my lekker-drukkie-boeta bly en Mamma se hart is nou gedeeltelik in die hemel by jou. Tot ons weer ontmoet . . .”
Elmarie sê dat Jandré later in Fauresmith in die Vrystaat begrawe sal word.
’n Roudiens vir Jandré word Saterdag om 10:00 in die Nederduitsch Hervormde Kerk Onverwacht in Lephalale gehou.