Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ouers gaan trou ná dogtertjie se dood

Die ouers van Leah Steyn wat verlede jaar deur twee pitbulls doodgebyt is, het met haar derde verjaardag aangekondig hulle gaan trou – met klein Leah as “eregas” op die groot dag.

Michael Steyn by die graf van sy dogtertjie Leah op haar derde verjaardag Saterdag. Foto: Verskaf

Michael Steyn en Jeslee Vermaak van Bloemfontein se verhouding “ly nog steeds verskriklik onder hierdie smart,” het sy pa, Andries, aan Netwerk24 gesê.

“Baie kere het dit gelyk of hulle dit nie gaan maak nie, maar dan kom God en hy maak weer heel . . . Die goeie nuus is dat hulle op 28 Oktober van hierdie jaar gaan trou met Leah as eregas!”

Die ouers en hele familie het Saterdag op wat Leah se derde verjaardag sou wees, by haar graf in die Bloemspruitbegraafplaas buite die stad bymekaargekom om haar lewe te gedenk.

Leah Steyn se graf op haar derde verjaardag. Sy is in Augustus 2018 deur twee pitbulls doodgebyt. Foto: Verskaf

Wit en pienk ballonne is aan haar grafsteen vasgemaak. Hulle het ook foto’s, blomme en van haar speelgoed op die graf gesit. Een speelding op die graf is ’n grys, wollerige krimpvarkie.

Dit was ook Saterdag die eerste byeenkoms van die Leah-stigting wat voortaan elke jaar met haar verjaardag pienk kolwyntjies aan minder bevoorregte kinders in die Vrystaat gaan gee.

Die Leah-stigting het baie nederig begin met minder bevoorregte kinders wat buite Brandfort elkeen 'n kolwyntjie gekry het.

“Ons beplan volgende jaar iets soortgelyks in Wepener en met die genade van die Here sal die families al meer berusting gevind het in dit wat met Leah gebeur het om dit groter en beter te maak,” sê die stigting.

Leah is op 24 Augustus verlede jaar verskeur deur twee pitbulls van Papi Mokoena, voormalige burgemeester van Mangaung.

Die Leah-stigting het op die eerste verjaardag van Leah Steyn, die dogtertjie wat in Augustus 2018 deur twee pitbulls doodgebyt is, kolwyntjies vir minderbevoorregte kinders voorsien. Foto: Verskaf

Sy het vermoedelik oor die muur van haar ouerhuis in Du Plessislaan 5, Langenhovenpark, geloer toe die honde in die buur-erf teen die muur opgespring en haar oorgeruk het.

Andries Steyn sê die ouers het besluit om nie regstappe teen Mokoena in te stel nie.

“Die familie voel dat regstappe Leah nie gaan terugbring nie.”

Die paartjie het nog nie die gesprek met Mokoena gehad wat hy op die dag van die tragedie gesê het hy met hulle wil voer nie.

Hulle het ook uit die huis getrek wat vol herinneringe aan Leah was en woon in Groenvlei.

Leah Steyn se graf op haar derde verjaardag. Foto: Verskaf

Leah se oupa sê hulle sal hierdie bondeltjie energie en plesier nooit vergeet nie. Daar is ’n muur vol van haar foto’s in die nuwe huis en hulle praat steeds gereeld van haar.

Die geleentheid by haar graf Saterdag was “hartseer en spesiaal”.

“Dit was eintlik ’n hartseer dag. Volgende jaar op haar verjaardag gaan dit miskien beter. Ons praat steeds elke dag oor haar.”

Die paartjie het nog ’n dogtertjie, Jené (1).

Meer oor:  Troue  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.