Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ouers gebroke, maar nie sonder hoop ná seun se dood

Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

_________________________________________________________________

Meer as twee maande nadat Jean Goosen (29) in ’n tref-en-trap-ongeluk in Pretoria dood is, het sy ouers nog nie afsluiting gevind nie.

“Ons lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Geen ouer kan hom voorberei op hierdie trauma nie,” sê sy pa, Jacques, van Nelspruit.

Jean Goosen (29) Foto: Verskaf

Die voorval was op 26 Mei tussen 17:45 en 18:00 by die N4/N1-wisselaar op pad na Witbank. Goosen en ’n vriend het saam gery, elkeen op hul eie motorfiets.

“’n Voertuig het Jean getref en weggery. Hy is op die toneel dood verklaar,” sê Jacques.

“’n Vrou wat ’n entjie agter Jean gery het, het dit gesien gebeur. Sy kon ongelukkig nie die voertuig eien nie. Baie mense het stilgehou om help. Die mense op die toneel was baie goed vir hom.”

Jacques doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om na vore te kom.

“Iemand moes êrens iets gesien het wat ons sal help om hierdie boek af te sluit. Dit sal ons help om finaliteit te kry, sodat ons kan vorentoe gaan met ons lewe. Ons is nie op ’n tog om wraak te neem nie. Wraak gaan hom nie terugbring nie. Ons vertrou dat die Here ons sal help.”

Hy sê hoewel hul harte gebroke is, is hulle nie sonder hoop nie.

“Iemand moet verantwoordelik gehou word en regverdigheid moet geskied.”

Jean laat sy ouers en jonger broer (26) agter.

Kapt. Jan Sepato sê die polisie is steeds “in die duister” en werk saam met Sanral om die skuldige vas te trek.

“Ons het die beeldmateriaal van die kameras op die hoofweg bestudeer. Ongelukkig was die kamera naby die toneel buite werking en het ’n tweede kamera in die ander rigting gewys.”

Die ouers sal nie afsluiting vind totdat die skuldige aan die pen ry nie.

Sepato het vroeër gesê daar is verf van die voertuig aan die motorfiets gevind, maar dat dit moeilik is om die voertuig op te spoor sonder ’n registrasienommer.

Enigiemand met inligting kan konst. Michael Mashilo, ondersoekbeampte, by 076 249 8733, of Jacques Meiring van Divergent Ops by 082 872 3542 bel.

“Die ouers sal nie afsluiting vind totdat die skuldige aan die pen ry nie,” sê Sepato.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Meer oor:  Jean Goosen  |  Pretoria  |  Ongeluk  |  Motorfiets  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.