Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ouers geskok ná kleuter (4) se skielike dood

Die ouers van ’n vierjarige kleuter is erg geskok nadat sy onverwags in Bloemfontein dood is aan “iets wat kinders elke dag kry”.

Hoewel Lia-Mari Janse van Vuuren sedert geboorte met haar gesondheid gesukkel het, was sy veral die afgelope jaar so gesond dat haar ouers geglo het hul enigste kind sal ’n hoë ouderdom bereik.

Willem Janse van Vuuren (31), Lia-Mari se pa, sê sy was so gesond dat hy en Mari (31), haar ma, glad nie verwag het wat nou gebeur het nie.

“Ek en Mari is geskok, omdat ons gevoel het sy is al so groot. Ons voel eintlik dit moes haar nie so platgetrek het nie.”

Lia-Mari is Saterdag, ’n dag voor Moedersdag, omstreeks 15:25 in die Mediclinic Bloemfontein se hoësorgeenheid dood nadat sy Vrydag in die hospitaal opgeneem is.

Lia-Mari Janse van Vuuren met haar geliefde George-pop van die TV-program Peppa Pig. Flaming Fire Photography

Sy het Woensdag begin siek word nadat virusse en bakterieë haar liggaam aangeval het.

Mari sê die virusse is geïdentifiseer, maar die soort bakterieë kon nie betyds geëien word nie, omdat dit sowat drie dae neem.

“Dit was in haar lyfie, maar dit was net te sterk vir die behandeling wat sy ontvang het,” sê Mari.

Lia-Mari Janse van Vuuren saam met haar ouers, Willem en Mari. Foto: Verskaf

Reeds op 33 weke van Mari se swangerskap het ’n dokter opgemerk Lia-Mari het ’n vernouing in haar dunderm. Dit is op 7 Februarie 2015 herstel, ’n dag ná haar geboorte. ’n Maand later het dokters bepaal haar lewer funksioneer nie reg nie en sy het op 24 November 2015 ’n leweroorplanting ontvang, vertel Mari.

Mari het ’n deel van haar lewer geskenk.

Lia-Mari sou daarna lewenslank immuun-onderdrukkers moes gebruik, sodat haar liggaam nie die lewer sou verwerp nie, sê sy. Dit het haar meer vatbaar vir siektes gemaak.

Willem, ’n Bloemfonteinse fotograaf en die eienaar van Flaming Fire Photography, sê sy het verlede week verkoue gekry, “soos enige ander kind”. “Sy kry onmiddellik vog op haar longe. Sy is dood aan iets wat ander kinders elke dag kry.”

Lia-Mari het nog Saterdag vir haar pa vertel hoe lank die dokter se inspuitnaald was, en ook vir haar ma lekkergoed gevra, vertel hy hartseer.

Albei ouers sê Lia-Mari het baie lewens aangeraak en boodskappe stroom uit alle oorde in.

“Partykeer dink ek Lia se bestaan was te groot vir haar lewe om lank te kon wees. Haar impak in die wêreld was te groot vir iemand om 60 jaar oud te word.”

Willem sê sy het die mooiste maniere gehad.

Sy het graag die TV-program Peppa Pig gekyk en was versot op haar George- en Peppa-pop.

Willem Janse van Vuuren in sy dogter, Lia-Mari, se kamer in sy huis in Bloemfontein. By hom is haar pop Peppa Pig, een van haar gunsteling-speelgoed. Foto: Mlungisi Louw.
Lia-Mari Janse van Vuuren saam met haar ma, Mari. Hulle het alles saamgedoen, sê Mari.Foto: Flaming Fire Photography

Wat wou sy word? “Sy wou ’n prinses word, dis wat sy wou word,” sê Willem. “En net rokkies dra vir die res van haar lewe.

“Sy wou altyd die blinkste pienk goedjies hê – vir seker ’n prinses.”

Mari, wat in Boshof woon, sê Lia-Mari was ’n lewendige en avontuurlustige kind.

“Jy kon nooit agterkom sy kry swaar nie; sy het altyd ’n glimlaggie gehad en altyd iets snipperig teruggesê.”

Lia-Mari was lief vir verf, inkleur en borrels in haar badwater. Sy het altyd vrae oor “Liewe Jesus” gevra as haar ma Bybelstories lees en het die kerk “Jesus se kasteel” genoem.

Lia-Mari Janse van Vuuren saam met haar pa, Willem. Hy sê sy enigste kind het die mooiste maniere gehad. Foto: Flaming Fire Photography

Mari sê sy dink die moeilikste gaan saans wees. Lia-Mari het elke aand by haar in die bed geslaap.

“Sy het my altyd omhels en vir my gesê: ‘Mammietjies, I love you to the moon and back’.”

Anita Roberts, Lia-Mari se ouma, sê sy was ’n gawe uit God se hand en sy gaan haar verskriklik mis.

“Ek dank ons Skepper vir so ’n spesiale dogtertjie wat in ons lewe was.”

* Lia-Mari se roudiens is Vrydag om 11:00 in die NG kerk Boshof.

Lia-Mari Janse van Vuuren saam met haar ma, Mari. Hulle het alles saamgedoen, sê Mari.Foto: Flaming Fire Photography
Lia-Mari Janse van Vuuren en haar ma, Mari. Hulle het altyd saam geverf en ingekleur.Foto: Flaming Fire Photography
Lia-Mari Janse van Vuuren met haar pop George in die hand. Foto: Flaming Fire Photography
Meer oor:  Bloemfontein  |  Gesondheid  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.