Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ouers het hoop: Regstudent nou in 'ná-koma'

’n Regstudent en oudleerling van Grey-kollege (sekondêr) wat in Julie verlede jaar ernstige kopbeserings in ’n motorfietsongeluk opgedoen het, toon die laaste twee tot drie maande ’n verbetering in die gebruik van sy ledemate.

Ruan Joubert (20) was ’n eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit toe hy van sy motorfiets geval en sy kop ’n klip getref het.

Ruan Joubert (20) voor die ongeluk.

Hy was maande lank in ’n koma en volgens sy pa, Beeno, is hy nou in ’n “ná-koma”.

Hoewel Ruan, wat in Januarie mondig word, se vordering op die oog af minimaal lyk, beteken dit baie vir sy ouers.

“Dit gaan onder die omstandighede regtig goed,” sê Beeno.

Hoewel Ruan nie kan praat nie, kan hy onder meer op sy vingers tel wanneer sy ouers hardop vir hom tel, hy wys al duim in die lug wanneer hulle vra of hy gemaklik lê en trek sy bene op wanneer op sy voete gedruk word.

Beeno sê Ruan se verbetering is egter nie van só ’n aard dat hy al self van posisie kan verander en “sy arms in die lug kan gooi en swaai nie”.

Hy word tans 24 uur per dag in ’n versorgingsentrum in Bayswater in Bloemfontein versorg. Ruan haal steeds deur ’n tragea in sy keel asem en het ’n voedingsbuis in sy maag.

Beeno sê Ruan toon ’n “spontane reaksie” wanneer hy en Liesl, Ruan se ma, hom naweke uit Kimberley kom besoek.

“Jy kan op sy gesig sien hy weet beslis wie by hom is en wat om hom aangaan.”

Grey Kollege het met ’n onlangse geldinsameling R42 776 vir hom bymekaargemaak.

Sy ouers praat normaal met hom. Hulle vra hoe dit gaan, of hy lekker geslaap het en hou hom op die hoogte van ontwikkelinge in hul lewens.

“Ons weet hy is vasgevang in sy eie liggaam.”

Die Joubert-egpaar se mediese fonds dek nie al sy mediese koste nie en geldinsamelings word gehou om hulle finansieel by te staan.

’n Trust is vir Ruan gestig om in sy behoeftes te voorsien. Op Donderdag 27 September word ’n sportgeselligheid met onder andere Naas Botha in samewerking met die trust op die Goose Hill-landgoed in Bloemfontein aangebied.

Beeno sê hulle beoog om só ’n geleentheid elke vier maande te hou sodat die trust kan groei.

Grey-kollege het met ’n onlangse geldinsameling R42 776 vir hom bymekaargemaak.

Marzaan Venter, Grey se bemarkingsbeampte, sê dié skool het ’n civvies-dag ter ondersteuning van Ruan gehou.

“Dit was regtig vir ons ’n verrassing, want op so ’n dag samel ons gewoonlik op die meeste R7 000 in,” sê Venter.

Sy sê hoewel R10 die minimum bedrag was wat vir dié dag betaal kon word, was daar mense wat bedrae van R500 en R1 000 geskenk het.

Deon Scheepers, die skoolhoof, is verheug oor die groot bedrag wat ingesamel is.

“Die Grey-gemeenskap het weer eens gewys dat daar op hulle gereken kan word en dat die Grey-familie saamstaan wanneer iemand in nood verkeer. Ek glo en vertrou dat hierdie bedrag wel ’n verskil, al is dit klein, in Ruan se lewe sal maak.”

Hoewel Beeno van dié geldinsameling bewus was, was die bedrae nog nie aan hom bekend nie.

“Dit is absoluut wonderlik, ek is sprakeloos.”

Meer oor:  Herstel  |  Motorfietsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.