Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oues sukkel ná makelaar hul glo uit neseier bedrieg

Dit was veronderstel om sy ma-hulle se neseier te wees, maar nou sukkel hulle om liggaam en siel aanmekaar te hou.

So sê ’n moedelose André de Wet nadat ’n “skelm” familievriend na bewering sy ouers, Jimmy (63) en Johanna (62), met wie hy ’n huis in Birchleigh in Johannesburg deel, met ’n slap riem gevang en met hul pensioengeld verdwyn het.

“Ek het die naweek ’n saak van bedrog teen die man aanhangig gemaak. Ek wil ander bejaardes waarsku om maar eerder lig te loop vir sogenaamde finansiële adviseurs wat hul geldsake wil hanteer, met hul huisvriende word en hulle dan bedrieg. Jy kry eerlike makelaars, maar ook skelms wat jou vir ’n ride vat,” sê De Wet.

Sy ma het verlede jaar op pensioen gegaan nadat sy 34 jaar vir die staat as ’n administratiewe beampte gewerk het.

“My ma het ’n finansiële adviseur wat haar geldsake hanteer. Nou onlangs vind ek uit dat dié man, wat intussen ’n familievriend geword het, ’n kredietkaart in my ma se naam oopgemaak het waaruit hy kort-kort geld onttrek. My ma het ’n redelike pensioen van die staat ontvang, wat sy wou gebruik om haar huis te verbeter, en nou sukkel sy om rekeninge te betaal.”

My pa is sieklik en kan nie tot die huishouding bydra nie. Ek help waar ek kan, maar dit is moeilik.

Volgens De Wet het sy ma die fout gemaak om die man in haar vertroue te neem en hom goedsmoeds toe te laat om haar geldsake te hanteer. Volgens hom het sy selfs al geld in die man se bankrekening inbetaal.

“Hy het 100 beloftes aan my ma gemaak en selfs ’n vriend voorgestel wat herstelwerk aan haar huis kan doen, wat hy toe nie kon voltooi nie omdat sy sukkel om vir die boumateriaal te betaal.”

Die polisie in Norkem Park het die klag van bedrog teen die man bevestig.

Netwerk24 het Dinsdag verskeie boodskappe op die man se selfoon gelaat sodat hy sy kant van die saak kan stel, maar geen reaksie is ontvang nie.

Jaco Steenkamp, ’n makelaar vir wie die man in 2016 gewerk het, het gesê weens sy gewoonte om geld by kliënte te “leen” moes hom in die pad steek.

“Gewoonlik is dit bejaardes wat met ’n slap riem deur ’n skelm skema, makelaar of boekhouer gevang en dan in ellende gedompel word. Wanneer dit lyk asof dit te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik die geval en die gevaarligte moet begin flikker. ’n Kliënt belê in jou as makelaar se integriteit.

“Ek moet beklemtoon dat nie alle finansiële adviseurs, bemarkers of makelaars oneerlik en daarop uit is om mense te bedrieg nie. Wanneer dit wel gebeur, is dit juis ouer mense wat nie kan bekostig om hul swaar verdiende geld te verloor nie en wat dan aan die kortste ent trek,” sê Steenkamp.

“Dit is vir my hartseer om my ma-hulle so te sien sukkel,” sê De Wet.

“My pa is sieklik en kan nie tot die huishouding bydra nie. Ek help waar ek kan, maar dit is moeilik. Swendelaars daarbuite bestudeer ’n persoon se omstandighede en weet presies hoe om hul slagoffers te benader en uit te buit.”

Meer oor:  Johannesburg  |  Bedrog  |  Makelaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.