Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ouma wen op Nampo met windpomp-patent

’n Vrystaatse ouma het pas die eerste prys in haar kategorie gewen met ’n patent wat groot aandag op vanjaar se Nampo-oesdag getrek het.

Boonop is Dirkie Jerling (74), ’n boervrou van Hennenman, se wederhelf, Stan (ook 74), innig dankbaar oor die voordeel wat haar patent vir hom inhou.

Dirkie (links) en haar man, Stan Jerling, by die skaalmodel van ’n windpomp-aftakelingsinstrument waarmee sy ’n patente-afdeling gewen het op vanjaar se Nampo-oesdag.Foto: Mlungisi Louw

Dirkie se windpomp-aftakelingsinstrument is een van Graan Suid-Afrika en Omnia se boerepatente wat vertoon word.

Stan is ’n afgetrede boer wat deesdae herstelwerk aan windpompe doen en boorgate skoonmaak.

“My man moes verlede jaar in Vanderbijlpark ’n windpomp gaan aftakel om te herstel, maar die masjinerie wat hy gebruik het, was baie swaar en moeilik om te vervoer.

Dirkie (links) en haar man, Stan Jerling, by die skaalmodel van ’n windpomp-aftakelingsinstrument. Dis een van Graan Suid-Afrika en Omnia se boerepatente op vanjaar se Nampo-oesdag.Foto: Mlungisi Louw

“Dit sou ook beteken het hy moes twee keer ry, want die masjinerie moes gesleep word en hy het sy toerusting met ’n sleepwaentjie aangery. Ek het die aand voordat hy moes gaan in die bed gelê en dink hoe dit vereenvoudig kon word.

“Ek het die volgende oggend ’n tekening gemaak. Hy het dit beproef en dit het gewerk!” vertel Dirkie.

Met die aftakelingsinstrument word ’n windpomp deur ’n wenas afgetakel en weer opgetrek. Volgens Stan kan dit met ’n swaar voertuig, trekker of viertrekvoertuig gedoen word. Hy sê die instrument kan maklik opgepak en vervoer word.

“Ek is baie bly en trots op my vrou. Ek het dadelik geweet dit sou kon werk toe ek haar ontwerp sien.

“Die mense is ook mal daaroor, veral omdat dit ’n vrou se idee is en dit nogal deur ’n redelike senior dame.”

Stan het ook sy eie patent op Nampo wat hy noem ’n plaasdomkrag. Dit is van weggooimateriaal vervaardig en word as domkrag vir swaar implemente gebruik.

Meer oor:  Omnia  |  Nampo-Oesdag  |  Henneman  |  Nampo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.