Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Oupa’ val, maar sy nalatenskap ongeskonde – adv. Steyn

Die Universiteit van die Vrystaat (UV), ’n instelling wat pres. M.T. Steyn op die been gehelp bring het, kan sy standbeeld verwyder, maar sy nalatenskap is onaantasbaar.

So het adv. Colin Steyn gereageer op die UV wat sy oupagrootjie se beeld die naweek verwyder het. Hoewel hy voel dat die beeld by die Oorlogsmuseum tot sy reg sal kom, het die nuus hom hartseer gestem.

'n Argiteksvoorstelling van die nuwe tuiste van pres. M.T. Steyn voor die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Die beeld is die afgelope Saterdag voor die hoofgebou op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwyder en geberg. Sodra die ooreenkoms vir die vervoer en oprigting van die beeld met die museum afgehandel is, sal die beeld daarheen verskuif word. Foto: Verskaf

“Ek het geweet van die besluit om die beeld te skuif en geweet wat kom, maar die nuus het my ’n bietjie onkant gevang. Ek was deel van ’n vergadering op 2 Oktober verlede jaar toe hiervoor beplan is en ek het hulle daarop gewys dat dit ironies is, want dit was op my oupagrootjie se verjaardag.”

Sy reaksie toe ’n buurman hom Saterdag met die nuus bel en hulle die foto’s sien van die beeld van die president wat op die naat van sy rug op ’n vragmotor lê, was: “Daar val Oupa . . . !”

Die UV het wel die Steyn-familie van die begin af by die gesprekke oor die beeld se toekoms ingesluit en gehoor gegee aan hul wens dat die aftakeling en verwydering stil geskied. Hy dink die Covid-19-pandemie en die inperking het gelukkig ook daarvoor gesorg.

Jy kan nie sy nalatenskap verander nie. Dit is soos ’n kerf wat op marmer uitgekap is.
adv. Colin Steyn.

Die beeld van M.T. Steyn, in lewe president van die Vrystaatse Republiek, kan val, maar die monumente wat hy nagelaat het, soos die UV self, die Hoër Meisieskool Oranje, die ou Spoorwegburo, die opbou van die Vrystaatse modelrepubliek, sy onkreukbare karakter, veral in die Anglo-Boereoorlog, en sy ontferming oor die vroue en weeskinders ná die oorlog, sal nog lank bly staan.

“Jy kan nie sy nalatenskap verander nie. Dit is soos ’n kerf wat op marmer uitgekap is. Dit waarvoor hy gestaan het, is onveranderlik. Sy werke sal bly staan, en dit is meestal goed. Hy is dood, dis water onderdeur die brug en kan nie verander word nie.”

Steyn sê die mense wat sy oupagrootjie so van rassisme beskuldig het, moet dit bewys. Sy agterryer en vertroueling, Jan Ruiter, het hom gered toe die Britse leër die hele Vrystaatse kabinet op 11 Junie 1901 op Reitz aangekeer het. Ruiter is by die Boom van Sameswering op Onze Rust begrawe.

Toe ek sy beeld op die vragmotor sien lê, sien ek hom hier in die enorme bad lê. Die bad staan steeds ná al die jare op sy draakkloue hier.

Die Boom van Sameswering het in 2007 met die maak van die rolprent Fees van die ongenooides afgebrand, maar dit loop nou weer uit.

Steyn sê toe hy die nuus hoor dat die beeld geval het, het hy na M.T. Steyn se reuse-bad in die huis gestap wat ná meer as 120 jaar steeds op dieselfde plek in Onze Rust se huis buite Bloemfontein staan.

“Toe ek sy beeld op die vragmotor sien lê, sien ek hom hier in die enorme bad lê. Die bad staan steeds ná al die jare op sy draakkloue hier. Ons het as kinders sommer vyf seuns saam hierin gebad met water wat met ’n donkie warm gemaak is.”

*Adv. Steyn, ’n senior aanklaer in die kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Bloemfontein, het self ’n terugslag beleef. Hy het op Nuwejaarsdag in die spruit gaan swem en Paasnaweek siek geword nadat hy vermoedelik toe in die water ’n infeksie opgedoen het. Toe sy bloed getrek is, is vasgestel dat hy ’n skaars soort beenmurgkanker het. Die behandeling werk egter goed en hy “voel blakend gesond”, het hy Dinsdag gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.