Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
OVK: ‘Swart’ beteken in dié geval nie ‘swart’ nie

Die Verkiesingskommissie (OVK) sê Black First Land First (BLF) se definisie van “swart” is breër as net ’n velkleur, en dat dit daarom nie mense as lede uitsluit op grond van ras nie.

Daarom, sê die OVK, diskrimineer die BLF nie in sy grondwet deur lidmaatskap tot swart mense te beperk nie. Die Kieswet verbied partye uitdruklik om dit te doen, maar die OVK het steeds die BLF as party geregistreer.

Andile Mngxitama, BLF-leier.Foto: Wikus de Wet

Die Vryheidsfront Plus het die kieshof genader om die BLF se registrasie as party te skrap.

Wouter Wessels, VF Plus-LP, sê hulle het die hofsaak Vrydag teruggetrek weens ’n tegniese punt. Aangesien dit net ’n besluit van die hoofkies-beampte, Sy Mamabolo, was, moet hulle eers volgens wet appelleer na die OVK voordat hulle die kieshof mag nader.

Dít het die VF dus nou gedoen en die OVK het sewe dae om daaroor te beslis. “Indien die kommissie sloer of die appèl van die hand gewys word, dien ons dadelik weer die saak in,” sê Wessels.

Die BLF het in sy hofstukke in die kieshof volgehou wit mense mag nie deel van die party word nie.

Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus-LP.Foto: Mlungisi Louw

Luidens hul hofstukke is swart mense darem nie net Afrikane nie, maar ook bruin mense en Indiërs, maar beslis nie wit mense nie.

Selfs swart mense wat nie ’n “swart denkwyse” het nie, word beskou as “nie-wit” eerder as swart en sogenaamde “nie-wittes” is ook nie welkom nie.

Die OVK se siening jeens BLF word ook weerspieël in ’n brief wat Ma­sego Sheburi, adjunkhoofkiesbeampte, aan Werner Human, adjunkhoof van die vakbond Solidariteit, gestuur het. Dit was om Solidariteit se klag oor die BLF se grondwet van die hand te wys.

In die brief sê Sheburi die BLF definieer swart mense in sy grondwet as “diegene teen wie daar deur wetgewing of tradisie, ekonomies of so­siaal, gediskrimineer word as ’n groep in die Suid-Afrikaanse gemeenskap”.

“Daarom is hierdie karakterisering verskillend as rasgegronde diskriminasie,” voer Sheburi aan.

Andile Mngxitama, BLF-leier, het gister aan Rapport gesê dit gaan eintlik heeltemal oor ras.

“Ons het gekies om vir hul (swart mense se) vryheid te baklei.”

Gevra of wit mense wat aan hul definisie van swart voldoen aan die party mag behoort, sê Mngxitama steeds nee.

“Wit mense is die begunstigdes van apartheid, daar is nie plek vir hulle nie. Ons probeer die diskriminasie van wit mense teenoor swart mense regstel. As daar wit mense is wat met ons saamstem, dan is dit hul werk om self teen wit mense op te staan.”

Oor die VF Plus se hofsaak wat teruggetrek is, sê Mngxitama hy het die party gewaarsku “dat hulle geen saak het nie”.

“Hulle is bang vir ons, want hulle weet ons gaan hul grond kom vat.”

Die OVK het nie op Rapport se navrae gereageer nie. – Dawie Boonzaaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.