Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Owerheid sluit dalk die SAUK

Die finansieel-geruïneerde SAUK het tot 23 Januarie om vir owerhede aan te voer waarom hy glo hy nié roekeloos of insolvent sake doen nie.

Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) het verlede Donderdag ’n kennisgewing aan die SAUK beteken om te sê die owerheid het rede om te glo die SAUK doen roekeloos en insolvent sake.

Ingevolge die Maatskappywet is die volgende stap dat die CIPC die openbare uitsaaier beveel om onmiddellik te sluit as hy nie bevredigend antwoord nie.

Luidens die kennisgewing is die SAUK se laste R1,8 miljard meer as sy bates “en as ’n gevolg kan die SAUK nie sy korttermyn-verpligtinge nakom nie”.

Tshiamo Zebediela, CIPC-woordvoerder, sê hulle het nie ’n klagte oor die SAUK ontvang nie, maar het “proaktief” opgetree soos die Maatskappywet van hulle vereis.

“Enige regrukstrategie – in die vorm van ’n aksieplan wat ’n regeringswaarborg mag insluit – kan genoeg wees sodat ons die kennisgewing terugtrek.”

Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het deur haar woordvoerder laat weet hulle werk saam met die tesourie aan oplossings.

“Die departement beplan om voor die einde van Januarie ’n versoek vir ’n regeringswaarborg in te dien.”

Ndabeni-Abrahams het onlangs met die direksie vasgesit nadat sy hulle wou dwing om beplande afleggings by die SAUK te staak.

Die SAUK sal glo teen einde Maart nie meer salarisse kan betaal nie.

Die SAUK se raad bestaan tans net uit vier lede en het nie ’n kworum om enige bindende besluite te neem nie.

Die South African Screen Federa­tion raam dat net die helfte van TV-produksiegroepe wat inhoud vir die SAUK vervaardig, vir Desember betaal is.

Bronne binne die SAUK sê hulle moes boonop vir Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, skryf om te pleit dat die elektrisiteit van die uitsaaier se kantore in Johannesburg nie afgesny word nie.

Die uitsaaier het volgens die bronne R600 miljoen per maand nodig om uitgawes te betaal, maar genereer net R380 miljoen se inkomste.

Madoda Mxakwe, uitvoerende hoof, werk steeds deur ’n rits ondersoekverslae werk om vermorste geld te verhaal.

City Press, susterkoerant van Rapport, het duisende bladsye van ondersoekverslae gesien waarin die skokkende stand van sake uitgelig word. Dit is gebruik as basis vir die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se siviele eise van R366 miljoen.

Een van die gewraakte kontrakte was met Lornavision, ’n maatskappy wat aangestel is om uitstaande televisie-lisensiegeld in te vorder.

Die SAUK wil R62 miljoen terugkry, maar Lornavision dreig met ’n teeneis van R500 miljoen.

Nuwe bewyse dui daarop dat die Gupta-familie by Lornavision betrokke was.

In e-posse tussen die SAUK en Lornavision wat City Press gesien het, word Salim Essa, die voorste luitenant van die Guptas, ingesluit.

Frans Basson, uitvoerende hoof van Lornavision, het enige verbintenis met Essa ontken en het gesê die SAUK sou in ’n veel beter posisie gewees het as die kontrak net deurgevoer is tot die einde.

André du Plessis, ’n werker van ’n ander maatskappy wat aan Basson behoort, sê Essa is aan hulle as die “voorsitter” van Lornavision voorgestel.

Basson sê hy het nooit vir Essa ontmoet nie en kan nie verklaar waarom Essa in e-posse ingesluit is nie.

Nog ’n projek wat die SOE ondersoek, is ’n konsert van R27 miljoen wat gehou is sodat kunstenaars vir die omstrede oudbaas Hlaudi Motsoeneng kon bedank vir sy rampspoedige beleid om 90% plaaslike inhoud op SAUK se radiostasies uit te saai.

Motsoeneng word ook gedagvaar, onder meer oor die “suksesgeld” van R11,5 miljoen wat hy ontvang het vir die transaksie om die SAUK se argiewe aan MultiChoice te verkoop.

Hy het al die bewerings van die SOE ontken.

Neo Momodu, woordvoerder van die SAUK, sê hulle werk aan ’n voorlegging vir die CIPC.

“Ons wil benadruk dat die huidige SAUK-bestuur meer as R5,5 miljard se onreëlmatige uitgawes geërf het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.