Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
P van T gaan saam 150 jaar van Puk vier
Die legendariese President van Tarentaal en sy kabinet skud nou al vere reg om Saterdag weer vir komiese vermaak te sorg by die 150ste bestaansjaarviering van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus (Puk). Foto: Leanri Cunniff

Die President van Tarentaal (oftewel die P van T) en sy kabinet was die afgelope tyd in hibernasie waar hulle “sy aan sy in die loopgrawe en in die broeikaste gelê het”.

Sy edele het egter die afgelope naweek gesê hy en sy kabinet is in hul “knoppies” om eerskomende Saterdag die stilswye te verbreek tydens die 150ste bestaansjaarvieringe van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, oftewel die Puk.

Die Republiek van Tarentaal, sy president en kabinet, is tong-in-die-kies entiteite wat in die 1970’s op die Potchefstroomkampus tot stand gekom het om verdere kleur en pret aan die reeds bedrywige studentelewe te verleen.

Die president is reeds vir dekades bekend om sy legendariese humoristiese toesprake, asook sy en sy kabinet se flambojante uitrustings wat hul identiteit verberg. Hul ware identiteit is steeds vir meeste geheim.

Die P van T se toespraak by die 150ste feesvieringe op 30 November in die Snowflake-gebou in Potchefstroom, beloof om ’n hoogtepunt te wees. Die program begin reeds om 10:00 met samesang onder leiding van die oud-Puk en bekende musikant Johan van Rensburg.

Ander bekendes soos oudpres. FW de Klerk en dr. Theuns Eloff, voormalige Puk-rektor en later visekanselier van die NWU, sal ook daar wees om nostalgies te word saam het hul alma mater. Bekende oud-Pukke soos Danie Niehaus en Anna Davel sal optree.

Die P van T vertel hy en sy kabinet (wat tot in der ewigheid sal voorbestaan, ook in tye van hibernasie) het destyds “grondgebied met die Puk gedeel, maar sonder Klousule 25”.

“Ons enigste klou was aan die neet van soewereiniteit.”

Sy edele was bereid om ’n klein voorsmakie te gee van hoe hy en sy kabinet beplan om feesgangers Saterdag te laat regop sit en skater.

Die President van Tarentaal (in die middel met die groen en geel hemp) en sy kabinet toe hulle in 1994 ereburgerskap van die Republiek van Tarentaal aan Nelson Mandela oorhandig het, kort nadat Mandela president geword het. Foto: Verskaf

“Gesien in die dowwe lig van die feit dat die voorgenome vieringe in aller waarskynlikheid meestal terugskouend van aard sal wees, en omdat meeste van die destydse stigters waarskynlik oorlede is (behalwe ’n paar vasbyters by die Puk se Adminkantoor), sal die kabinet van Tarentaal hul eie unieke indrukke en weergawe van die geskiedenis gee, maar terselfdertyd ook hul oorwoë mening oor sake van die dag uitspreek, die huidige stand van sake in oënskou neem en enkele opmerkings maak oor hul siening van die toekoms en oplossings vir probleme bied.”

Die P van T vertel die “konvokasie van geveerdes” het hom tot president verkies nadat hy “volgens die voorbeeld van sy buurstaat die RS van A, die ekonomie heeltemal in duie laat stort het”. Die president het wel voor- en nagangers gehad, maar “die meeste was tussengangers”.

Volgens die P van T is “sy identiteit lankal bekend”.

“Ek is ’n aangetroude neef van die befaamde kitaarspeler, Die Kavalier. Daar is al ’n beroep op die P van T en sy kabinet gedoen om hul beroepe bekend te maak. Soos ons kollegas in die regering van die RS van A, is ons self nie seker wat ons doen nie.”

Volgens sy edele het “alle presidente (van Tarentaal) min of meer aan die Puk studeer”. “Die presiese hoeveelheid studie is onbekend. Ekself het verskeie kursusse op ’n veilige afstand gevolg.”

Die P van T sal deur die loop van Saterdag ’n paar gevleuelde woorde spreek.

Vir meer inligting oor die volledige feesprogram en om kaartjies te koop, besoek puk150.co.za. Verskillende pakkette is beskikbaar. Die koste per persoon wissel tussen R120 en R250.

Agtergrond:
Oud-Pukke reël die fees nadat die Noordwes-Universiteit (NWU) besluit het om nié ’n 150-jarige fees te reël of regstreeks daarby betrokke te wees nie. Die Teologiese Skool en sy literariese departement wat in 1869 tot stand gekom het, het gegroei tot die latere Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, wat in 2004 saamgesmelt het met die Universiteit van Noordwes in Mahikeng en die Vista-kollege in Sebokeng naby Vereeniging om die NWU te vorm.
Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het vroeër gesê die NWU sal sy 20ste bestaansjaar in 2024 vier. “Sonder om die verlede enigsins te misken, fokus ons op die toekoms, nie op die verlede nie. Die universiteit is gebore uit die samesmelting van verskillende instellings. Ons plaas die klem op wat die nuwe instelling bereik het nie op die viering van enige voormalige instellings nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.