Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa, 2 seuns verkool: ‘Ek het gebid dis nie hulle’

Die Here het geweet om hulle saam te vat.

Só sê ’n verpletterde Hannelie Rossouw nadat haar twee jong seuns en hul pa Sondagaand in ’n gru-ongeluk buite Marble Hall in Limpopo dood is.

Nico Rossouw (48) wat in ’n ongeluk buite Marble Hall in Limpopo dood is.

Nooddienswerkers van Life24-ambulansdienste wat na die ongelukstoneel ontbied is, sê dit was van die ergste ongelukke wat hulle vanjaar gesien het. Altesaam sewe mense is na verskillende hospitale geneem.

Nico Rossouw (48) van Steelpoort in Limpopo en sy twee seuns, JP (10) en Jannie (13), het onherkenbaar verkool toe hul motor etlike kere gerol en aan die brand geslaan het.

Hannelie en Nico is twee jaar gelede geskei.

“Ek glo die Here het besluit om hulle nou saam te vat,” sê sy.

Nico en hul twee seuns was Sondagaand op pad terug huis toe vanaf Modimolle (Nylstroom), waar hulle die naweek by familie gekuier het toe die ongeluk ná 18:00 gebeur het.

Jannie Rossouw (13), ’n gr. 6-leerling aan die Laerskool Steelpoort in Limpopo, het Sondag in die ongeluk gesterf.

Hannelie het om 18:15 nog ’n WhatsApp-boodskap van Jannie gekry: “Mamma, nog so twee ure, dan is ons by die huis.”

Sy het geantwoord dat hulle veilig moet ry. “Toe dit laat raak en hulle nog nie opgedaag het nie, het ek hul selfone gebel, maar dit het dadelik na stempos oorgeskakel.”

Sy het toe op ’n Facebook-groep gesien dat daar ’n ongeluk buite Marble Hall was. “Dit was verskriklik, ek het gebid dit is nie hulle nie.”

’n Nommerplaat van Rossouw se Datsun het bevestig dat dit hulle is wat in die ongeluk was.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die bestuurder van ’n Nissan Navara-bakkie het na bewering nie by die Slagboom-T-aansluiting stilgehou nie. Dit het gebots met Rossouw se motor, wat gerol en in vlamme uitgebars het.

Die bakkie het daarna by groente- en vrugtesmouse se stalletjies ingeploeg. Twee kinders van onderskeidelik een en vier jaar oud wat in die stalletjies was, is baie ernstig beseer.

JP Rossouw (10) van Steelpoort het saam met sy ouer broer en pa in die ongeluk buite Marble Hall in Limpopo gesterf.

Ngoepe sê die bakkie se bestuurder het van die ongelukstoneel af weggehardloop.

Volgens Hannelie was JP ’n gr. 3-leerling en Jannie ’n gr. 6-leerling aan die Laerskool Steelpoort.

JP het in sport uitgeblink en was versot op atletiek, rugby en krieket. “Jannie het akademies presteer en die sertifikate ingeryg. Hy was baie lief vir die natuur.”

Die polisie moes DNS van haar neem om die seuns te identifiseer.

Annali Connear, Rossouw se suster, sê die familie is verpletter. “Dit voel so onwerklik. Waarom moes dit gebeur het?”

Connear, wat in Thabazimbi in Limpopo woon, het gesê sy gaan haar “boetie en die twee seuns vreeslik mis”.

’n Roudiens word Vrydag om 11:30 in die AGS-kerk in Steelpoort gehou.

’n Tweede roudiens gaan op Vrydag 30 Augustus om 11:30 in die New Way Christian Church in Thabazimbi gehou word.

“Ons sal hul as dan saam in een kissie sit en dit by Nico se pa in Thabazimbi begrawe,” sê Hannelie.

Die ongelukstoneel Sondagaand buite Marble Hall. Foto: LIFE24
Nooddiensvoertuie buite Marble Hall waar ’n pa en sy twee seuns Sondagaand gesterf het. Foto: LIFE24
Meer oor:  Nico Rossouw  |  Jannie Rossouw  |  Hannelie Rossouw  |  Jp Rossouw  |  Limpopo  |  Marble Hall  |  Sterfgevalle  |  Verkool  |  Pa  |  Ongeluk  |  Seuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.