Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa bring Larisca huis toe ná sy in hospitaal sterf

Die oorskot van die matrikulant van Uitenhage in die Oos-Kaap wat dood is terwyl sy op ’n dubbele longoorplanting gewag het, het Donderdagoggend uit Kaapstad in Port Elizabeth aangekom.

Hoewel dit bykomende uitgawes beteken het om die 19-jarige Larisca se oorskot per vliegtuig huis toe te stuur was Craig Radue, haar pa, vasbeslote om haar nie in ’n lyksak te laat veras nie.

“Sy is daar in ’n plastieksak sonder haar klere. Daar is nie ’n manier dat ek dit sal toelaat nie. My dogter verdien baie beter,” het Radue gesê.

Larisca, ’n leerling van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar in Uitenhage, is Dinsdagoggend weens orgaanversaking in die Groote Schuur-hospitaal dood.

Craig Radue en sy dogter, Larisca, toe die hospitaalpersoneel haar in die Livingstone-hospitaal met ’n matriekafskeidgeselligheid verras het. Foto: Lulama Zenzile

Sy het sedert Oktober op ’n dubbele longoorplanting in dié Kaapse hospitaal gewag, maar haar toestand het Sondag skielik verswak.

Larisca het aan sistiese fibrose gely. Dié genetiese siekte is in 2010 by haar gediagnoseer en haar boetie, Brendan (22), ly ook daaraan.

Radue het vroeër verduidelik dat hy en sy vrou, Lia, albei draers van die siekte is.

Ek glo nie hy dink nou aan die oorplanting nie, want hy is nou net hartseer oor sy suster wat nie meer hier is nie.

Volgens hom is een uit elke 250 000 getroude pare albei draers hiervan. Gevolglik kom sistiese fibrose by een van die kinders voor, maar in hul geval is dit by twee van hul drie kinders gediagnoseer.

Lia het sowat drie jaar gelede haar stryd teen borskanker verloor. Noudat hy gereed maak om Larisca volgende week ter ruste te lê, is die gedagte aan nog ’n familielid se dood te veel vir hom

Hoewel Brendan se longkapasiteit nog goed is, het die dokter juis vandeesweek gesê dat hy in die nabye toekoms ’n longoorplanting sal moet oorweeg.

Radue sê hy sal graag wil hê dat sy seun nou vir die oorplanting gaan terwyl hy sterk is, maar dit bly Brendan se keuse.

“Hulle (Larisca en Brendan) het ’n baie hegte band gehad. Hulle het mekaar gereeld herinner om hul medisyne te drink en saam vir ondersoeke gegaan.

“Ek glo nie hy dink nou aan die oorplanting nie, want hy is nou net hartseer oor sy suster wat nie meer hier is nie.”

Radue sê hul gesin het baie uitgesien na Larisca se terugkeer ná die oorplanting en om weer op die strand te kan loop en die buitelug te geniet, maar hy is dankbaar vir die herinneringe wat hy van sy dogter het.

Een van die laaste foto’s wat verlede naweek van Larisca Radue geneem is. Foto: Verskaf

Een van dié herinneringe is gemaak kort voordat Larisca van die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth na die Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas is. Die mediese personeel het vir haar ’n matriekafskeidsgeselligheid in die hospitaal gehou het. Larisca het dié skoolgeleentheid in Oktober misgeloop toe haar een long platgeval en sy in die hospitaal se waakeenheid opgeneem is.

Koenie Strumpher, waarnemende skoolhoof, het Larisca in ’n verklaring beskryf as ’n saggeaarde en liefdevolle leerling met ’n uitstekende humorsin, wat in al die Tiere (soos na die leerlinge van die skool verwys word) se harte gekruip het.

Ook Kola du Toit, een van die skool se adjunkhoofde, het namens die skool haar hartseer oor Larisca se dood uitgespreek.

Sy het Larisca as ’n voorbeeld vir haar medeleerlinge beskryf. “Sy sal onthou word as ’n baie dapper meisie wat skool toe gekom het, winter of somer, selfs wanneer haar siektetoestand veroorsaak het dat sy gekoppel aan ’n suurstoftenk moes beweeg.”

Leerlinge van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar in Uitenhage het ’n sivvie-dag by die skool gehou om geld vir Larisca Radue in te samel, terwyl sy nog op die dubbele longoorplanting in die hospitaal gewag het. Foto: Facebook

Du Toit onthou ook toe dit moeilik vir haar geraak het om trappe te klim het sy by ’n onderwyseres in die klas gesit. Die skool se onderwysers het dan haar werk vir haar gestuur en in hul vrye tyd gehelp sodat sy nie agter raak nie.

“Daniel Pienaar onthou Larisca as ’n meisie met ’n pragtige hart wat ook altyd haar Bybeltjie by haar gedra het en graag kerk toe gegaan het, en glo sy rus nou in vrede.”

* ’n Roudiens sal op 20 Desember om 14:00 in die skoolsaal gehou word.

Meer oor:  Larisca Radue  |  Uitenhage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.