Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa en seun se verdrinking ruk hul familie

Geskenke met hul name daarop het onder die Kersboom gelê, maar toe spoeg die see ’n dag voor en ná Kersfees die lyke van Keith (10) en sy pa, Gert Vermaak, uit.

“Ons probeer oukei wees. Die hele situasie is net tragies, hartseer. Ons familie probeer mekaar ondersteun, maar niemand weet wat om te sê nie,” het Gerda van Greunen, Vermaak se suster, Donderdag gesê.

Gert Vermaak en sy seun Keith. Foto: Facebook

Vermaak (35) se lyk het Woensdagoggend op die Beachview-strand by Port Elizabeth uitgespoel. Keith se lyk het reeds Maandag op dieselfde strand uitgespoel.

Vermaak, Keith en Rhodlyn Rademeyer (16), ’n nefie, het Saterdagaand in die moeilikheid beland toe hulle kano omslaan.

Dit was die eerste keer dat hulle met die kano op die see was om te hengel.

Rhodlyn het uitgeswem om hulp te kry, maar ondanks ’n uitgebreide soektog is Vermaak en Keith nie gevind nie.

“Daardie aand toe Rhodlyn hier by die huis opdaag, was hy so wit soos ’n spook.

“Hy kon skaars praat. Al wat hy gesê het, was, ‘Gertjie, help, kano omgetiep’, en toe sien ek die bloed aan sy bene. Ons het afgejaag see toe, maar kon niks sien nie en toe begin die soektog.”

Van Greunen sê sy het nooit moed opgegee nie en aanhou glo haar broer en sy seun sal dit oorleef.

Ons het nie Kersfees gehou nie. Hier was geen Kersfees-gevoel nie.

“Die soektog het my amper mal gehad. Ek kon aan niks anders dink nie. Ek was elke dag op die strand. Ek het gestap van Maitlands, Kinibaai en dan weer gery om ’n hoër uitsig oor die see te kry.”

Sy en Rhodlyn het op Oukersdag tydens hul soektog op Keith se lyk afgekom.

“Dit was verskriklik. Veral vir Rhodlyn. Hy blameer homself. Die mense wat op Facebook sê hy moes eerder gehelp het as om uit te swem, weet nie waarvan hulle praat nie.

“My broer het aan hom gesê om uit te swem en hulp te kry. Hy het Rhodlyn se lewe daarmee gered, terwyl hy sy seun probeer help het. My broer het as ’n held gesterf.”

Volgens Rhodlyn het ’n brander die kano getref en vol water gelaat, waarna ’n tweede brander die kano laat omslaan het.

“Hy (Rhodlyn) sê Gertjie en Keith was ook in die water, en die volgende oomblik was Keith weg en Gertjie het geskree hy moet hulp kry. Gertjie het toe afgesak om seker vir Keith te probeer help.”

Ons gaan hom mis. Hy was een uit ’n 1 000, ’n bok vir sports en was mal oor braai.
Gerda van Greunen

Kersdag het ’n somber atmosfeer by Van Greunen se huis geheers.

“Ons het nie Kersfees gehou nie. Hier was geen Kersfees-gevoel nie. Gertjie-hulle se geskenke het ons weggevat onder die Kersboom toe die klein kinders hul geskenke wil oopmaak.

“Toe dit middernag raak en tyd is om geseënde Kersfees te sê, het almal net in trane uitgebars.”

Van Greunen sê wat die situasie vererger, is dat Vermaak, wat voorheen alles verloor het toe sy onderneming bankrot speel, pas weer op dreef gekom het.

“Hy het twee weke gelede ’n nuwe werk gekry. Hy was so trots om weer geld vir sy vrou en kinders te verdien, en nou dit.”

Weens sy finansiële probleme het Vermaak en sy gesin die afgelope vyf maande by Van Greunen gewoon.

“Ek is dankbaar vir die afgelope paar maande wat ons tyd saam gehad het. Ons het in dié tyd baie geheg geraak aan mekaar.

“Ons gaan hom mis. Hy was een uit ’n 1 000, ’n bok vir sports en was mal oor braai.”

* Die begrafnisse word vir volgende week beplan.

Meer oor:  Gert Vermaak  |  Port Elizabeth  |  Beachview  |  Kano
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.