Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa hoor ná nagskof gesin het doodgebrand

’n Pa van Port Elizabeth het Woensdagoggend onbedaarlik gehuil toe hy ná ’n nagskof tuiskom en hoor sy hele gesin het doodgebrand.

Sy 34-jarige vrou, hul drie seuns van 3, 6 en 13 jaar oud en hul 11 maande oue dogter is Dinsdagaand in die brand in die Bayview-informele nedersetting dood.

Die plakkershuis in die Bayview- informele nedersetting is Dinsdagaand in puin gelê en ’n ma en haar vier kinders het doodgebrand. Foto: Cara-Lee Dorfling

Dit is tussen Despatch en Port Elizabeth langs die R75-pad geleë op ’n stuk grond wat in 2018 deur ’n groep mense ontbos is. Sedertdien is meer as 1 000 plakkershuise hier gebou.

Eddie Guzi (41), wat skuins oorkant die oorledenes woon, sê die gesin het so vier maande gelede ingetrek.

Volgens hom het hy Dinsdag kort ná 20:00 ’n rumoer buite gehoor en gesien die gesin se plakkershuis is in ligte laaie.

“Ek het die voordeur oopgemaak en net vlamme gesien. Die hele huis het gebrand.”

Guzi en ander inwoners het probeer om die brandende huis se voordeur oop te maak, maar hy vermoed dit was gesluit, want hulle kon dit nie oopkry nie.

“Deur dit alles kon ons hoor hoe die vrou en haar kinders in die huis huil.”

Hy sê inwoners was nog besig om ’n stuk van die plakkershut se agterste muur te probeer afbreek, toe die gehuil in die brandende huis skielik stil word.

Deur dit alles kon ons hoor hoe die vrou en haar kinders in die huis huil.

Volgens Guzi werk die pa snags as ’n skoonmaker by ’n fabriek.

“Ons het hom probeer bel, maar blykbaar los die man sy selfoon by die vrou wanneer hy gaan werk.

“Dit was baie moeilik om die man vanoggend (Woensdag) te sien huil. Hy het gesnik soos hy huil toe hy hoor sy hele gesin is dood.”

Omstanders het Dinsdagaand dié rooi Nissan-bakkie wat langs die brandende plakkershuis in Bayview gestaan het se ruit gebreek om dit te skuif. Foto: Cara-Lee Dorfling

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die plakkershuis was reeds deur die vlamme verswelg toe die polisie en brandweerdienste op die toneel aangekom het.

Volgens haar is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie en sal die oorledenes se name eers later bekend gemaak word.

Guzi sê egter hulle vermoed die vrou het ’n stomp, wat ’n kool gevorm het, by die huis ingedra vir hitte.

“Ons vermoed hulle het buite vuurgemaak en daarna die stomp in die huis ingevat. Dit het moontlik teen iets gelê wat vlamgevat het.”

Hoewel ’n klomp inwoners gou op die toneel was om te probeer help, is daar geen waterpunte in die informele nedersetting nie en moes hulle kort-kort oor die R75 hardloop om water in die Joe Slovo-nedersetting te tap.

Brig. Ronald Koll, waarnemende bevelvoerder van die Uitenhage-polisiegebied, het Woensdag sy meegevoel met die familie van die oorledenes betuig.

Daar was Woensdagmiddag geen teken van die pa nie, en hy is volgens Guzi na Addo toe om sy familie van die voorval in kennis te stel.

’n Geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

Meer oor:  Kapt. Gerda Swart  |  Eddie Guzi  |  Port Elizabeth  |  Doodgebrand  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.