Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa, ma en kleinspan vat die pad in bushuis

Dis nie iets wat ’n mens elke dag sien nie: ’n Onderwyser-egpaar en hul vier jong kinders wat ’n dubbeldekkerbus as hul nuwe woonplek inrig.

Sonja van Niekerk, haar man, Rheinholdt van In, en hul kinders, Katie, Karen en die tweeling, Kayla en Karlien by hul nuwe “bushuis”, reg vir avontuur.

Sonja van Niekerk, haar man, Rheinholdt van In, en hul kinders, Katie (6), Karen (4) en die tweeling, Kayla en Karlien (15 maande), trek dié naweek in hul nuwe huis-op-wiele in vir die volgende rit op hul lewenspad.

Dié Gautengse egpaar het net meer as ’n jaar gebruik om die ou bus te omskep wat hulle op Gumtree vir R35 000 gevind het. Nou spog dit met slaapkamers, ’n kombuis, eetkamer, badkamer en ’n kompos-toilet. Daar is selfs warm water!

Baie mense droom daarvan om hul werk te los, al hul besittings te verkoop, ’n paar stukke klere in te pak en die pad te vat. Dié gesin het presies dit gedoen nadat hulle na ’n TV-reeks en ’n dokumentêre prent gekyk het.

Sonja (34) het voorheen ’n kleuterskool by hul huis in Brackendowns in Alberton bedryf, terwyl Rheinholdt (37) as onderwyser by ’n remediërende skool in Mulbarton in die suide van Johannesburg gewerk het.

“Toe ek met kraamverlof was ná die tweeling se geboorte het ek baie Netflix gekyk tussen hul voedings wanneer die babas slaap. Ek het die reeks Tiny House Nation gekyk oor ’n paartjie wat iets soortgelyks gedoen het,” sê Sonja.

’n Vriendin het haar aangeraai om ook na die dokumentêre prent Expedition Happiness te kyk. Dit handel oor ’n rolprentmaker en ’n musikant wat Noord-Amerika in ’n gerestoureerde skoolbus deurkruis.

“Toe my man een aand by die huis kom, het ek gesê: ‘Komaan, kan ons nie dit doen nie, asseblief?’

“Ons is albei onderwysers en hou van wat ons doen, maar daar is soveel meer aan die lewe as om elke dag skool toe te gaan en te jaag, jaag, jaag. Hy het ingestem en ek kon dit nie glo nie,” het Sonja die afgelope week aan City Press, Rapport se susterkoerant, gesê.

“Ons het ’n bus gekies wat groot genoeg is vir almal sodat ons nie drasties hoef af te skaal nie. Dit moes ’n dubbeldekkerbus wees, want ek kan my nie vier kinders in ’n enkelverdiepingbus indink waar die ruimte reeds min is nie.”

Die egpaar het die kleuterskool gesluit wat die laaste paar maande weens die inperking skade gely het en Rheinholdt het uit sy werk bedank. Hulle het nie hul huis verkoop nie, want dié word verhuur vir ’n inkomste. Die kleuterskoolgebou is omskep in drie wooneenhede, wat ook verhuur word.

Die gesin bly vir twee weke by Rheinholdt se ouers terwyl die laaste werk aan die bus gedoen word.

“Ons wil by die Weskus begin,” sê Sonja. “Ons gaan af Kaap toe en dan moontlik noordwaarts Namibië toe ry.”

Meer oor:  Rheinholdt Van In  |  Sonja Van Niekerk  |  Huis Op Wiele  |  Bus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.