Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa praat eksklusief oor nuwe boek oor Anni Dewani
Vinod Hindocha in 2014 op ’n mediakonferensie in Kaapstad. Foto: Lerato Maduna

“Die verlies van ’n kind is nie iets waaroor ’n mens kom nie.

“Die trauma wat ’n mens moet verwerk en die pyn wat gekoppel is aan die verlies is nie iets wat sommer verdwyn of beter raak nie. Dit is iets wat ’n mens leer om mee saam te leef.”

So het Vinod Hindocha, Anni Hindocha (Dewani) se pa, Vrydag sy hart oopgemaak oor die jare lange stryd om die waarheid oor hul dogter se dood vas te stel.

Hy het telefonies uit Swede gepraat oor die nuwe boek wat Shrien Dewani se saak weer onder die vergrootglas plaas.

The Bloodied Bride: Did Shrien Dewani Get Away With Murder? is deur Thomas Mollett, ’n forensiese konsultant, en Calvin Mollett, ’n siviele ingenieur, geskryf en is as ’n e-boek gepubliseer.

In die boek het die broers hoofsaaklik gefokus op die bewyse en iets gedoen wat nooit gedoen is nie. Dit was om Dewani se verskeie weergawes te vergelyk en te toets, soos ’n geheime opname, sy pleitverduideliking en ander getuienis.

Shrien en Anni is in Oktober 2010 getroud en hulle het na Suid-Afrika vir hul wittebrood gekom.

Die aand van Anni se dood op 13 November is die taxi waarin hulle gery het in Gugulethu in Kaapstad gekaap.

Hulle het aandete in die Strand gaan eet en op pad terug het Dewani die taxibestuurder gevra om hulle na ’n plaaslike kroeg in Gugulethu te neem.

Daar is hulle gekaap en Anni is in die proses doodgeskiet.

Shrien was ongedeerd. Hy is terug na Engeland en die regering het vier jaar gesukkel om hom aan Suid-Afrika uitgelewer te kry.

Sy verhoor het in Oktober 2014 begin en op 8 Desember 2014 ná ’n suksesvolle aansoek om ontslag, is hy vir die moord op sy vrou vrygespreek.

Die omslag van ‘The Bloodied Bride: Did Shrien Dewani Get Away With Murder?’ Foto: Verskaf

Hindocha sê hy is baie bly dat die saak weer aandag trek en dat daar mense is wat steeds, ná tien jaar, nog omgee om die waarheid te openbaar.

“Dit is al wat ons nog altyd wou gehad het. Die waarheid. Ons ervaring met Suid-Afrika het ’n baie bitter nasmaak agtergelaat, maar dit maak ons bly om te weet daar is mense wat regtig omgee.”

Vir die herdenking van die tiende jaar van Anni se dood het haar familie op 13 November rooi rose by die meer in Swede waar haar as gestrooi is, gaan plaas.

“Daar is nie ’n sekonde wat verbygaan wat ek nie aan haar dink nie. Sy is oral om my en ek voel haar aan. Ek weet sy is by my,” sê hy.

Daarom is dit ná al hierdie jare steeds “onbeskryflik” moeilik.

Hy vertel hy het sedert sy dogter se dood nog nie ’n aand deurgeslaap nie. “Ek voel altyd haar teenwoordigheid.”

Hy is bly oor die boek omdat ’n mens meer duidelikheid kry oor hoe al die stukkies van die legkaart inmekaar pas.

“Sy het so ’n skoon en goeie hart gehad en ’n mens sal nie ’n foto van haar kry waar sy nie glimlag nie. Sy was so lief vir die lewe.”

Hindocha het in 2015 self ’n boek oor Anni geskryf. Alle geld van die verkope gaan na die Anni Hindocha-gedenkfonds en sal gebruik word om vroue en kinders te help.

Meer oor:  Shrien Dewani  |  Anni Dewani
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.