Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa samel R16 000 in vir seun met staptog

Met ’n staptog van sowat 73 km van ’n jagplaas buite Boshof in die Vrystaat tot in Kimberley, kon ’n pa sowat R16 000 insamel vir sy seun wat erg beseer is in ’n motorfietsongeluk.

Rynand “Beeno” Joubert het op Menseregtedag dié staptog vir sy seun Ruan (21) aangepak.

Rynand Joubert (links) en twee van sy medestappers, David de Kock (middel) en Sakkie Kleingeld, op pad na Kimberley.Foto: Christiaan Cloete
Ruan Joubert (20), ’n oudleerling van Grey-kollege, is verlam en in ’n semi-koma ná 'n fratsongeluk met ’n motorfiets in 2017.Foto: Verskaf

Ruan, ’n oudleerling van Grey-kollege in Bloemfontein, is op 7 Julie 2017 op die jagplaas naby Boshof beseer toe hy vroegoggend met ’n 500 cc-motorfiets teen ’n kraalmuur vasgery het. Hy het geval en sy kop teen klippe gekap. Hy was ten tye van die ongeluk ’n eerstejaarstudent in regte aan die Noordwes-Universiteit.

Hy is steeds in ’n semi-koma, maar is verlede maand, ná tien maande in die Bayswater-versorgingsoord in Bloemfontein, na sy ouers, Rynand en Liesel, se huis in Kimberley.

Ruan moet 24 uur per dag versorg word.

Die stappers het op 21 Maart om 05:00 die oggend weggetrek en om 16:15, presies 11 uur en 18 minute later, by die Yonder-skool in die Diamantstad aangekom. Vriende en familielede het hulle ondersteun deur elke paar kilometer drinkgoed en eetgoed te verskaf.

Daar was ook ’n 5 km-pretstap ten bate van Ruan by die Yonder-skool en Jannie Brink-opleidingsentrum in Kimberley nadat Rynand in Kimberley aangekom het.

Die stappers op pad na Kimberley.Foto: Verskaf

Daar was geen inskryfgeld nie, maar deelnemers kon geld skenk.

Rynand het die pad aangepak saam met Miemie Kleingeld, haar man, Sakkie, David de Kock en Gayle van Heerden. Sakkie het hom eers later by hulle aangesluit.

Rynand sê hy sou die staptog nooit sonder die hulp van sy medestappers kon aanpak nie. Die laaste 12 km was veral erg.

Rynand het reeds talle geld­insamelingsgeleenthede vir sy seun gehou om met die mediese uitgawes te help.

Hy wil die geld wat ingesamel is, gebruik om ’n voertuig aan te skaf waarin hulle die verlamde Ruan in ’n rolstoel kan vervoer.

Kimberliete wat deelgeneem het aan die pretstap by Ruan Joubert in die rolstoel. Foto: Verskaf
Rynand Joubert (regs) en David de Kock (links) vroegoggend tussen Boshof en Kimberley.Foto: Verskaf
Die stappers durf die langpad tussen Kimberley en Boshof aan. Foto: Verskaf
Meer oor:  Kimberley  |  Staptog  |  Geldinsameling  |  Motorfietsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.