Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa se gesin kom op hom af ná motorfietsongeluk
Adam Willemse in die hospitaal in Nelspruit.

“Kyk weg, dis Pappa,” het ’n vrou van Mbombela vir haar drie kinders geskree toe hulle naby die toneel kom waar haar man in ’n motorfietsongeluk was.

Landé Willemse se man, Adam, is met ernstige hoofbeserings in die Mediclinic Nelspruit opgeneem nadat hy Sondag op die R37 vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor het.

Die gesin het die dag saam met vriende op ’n plaas naby Lydenburg gebraai.

“Adam en ’n vriend het vooruit op hul motorfietse gery en ons in ’n bakkie agterna. Sondagmiddag op pad terug na Mbombela het sy vriend egter ’n pap wiel gekry en Adam het alleen vooruit gery.

“Ons was so halfuur tot 40 minute agter hom. Die pad is verskriklik sleg en daar is ’n langerige draai waar veral vragmotors geneig is om kanse te vat.”

Volgens haar lê daar nog ’n vrag langs die pad wat ’n vragmotor ’n paar weke tevore in ’n ongeluk verloor het.

Aankomende voertuie het hul ligte vir Landé-hulle geflits.

“Toe die tweede voertuig sy ligte flits, het ek so ’n hol gevoel op my maag gekry. Ek het aan die ander gesê ek dink Adam het met daai motorfiets geval.”

Die plek waar Adam Willemse in die ongeluk betrokke was in Nelspruit.

Hulle het Adam in die pad gesien lê toe hulle nader kom.

Volgens Landé was die pad van die middellyn tot by die geelstreep met bloed besmeer.

“Die paramedici wat Adam behandel het, sê dit lyk asof hy sowat 40 m ver gerol het. Dit het omtrent drie uur gevat om hom op die toneel te stabiliseer.”

Adam se valhelm het met die impak afgeval en hy het ernstige hoofbeserings opgedoen.

“Ek weet nie hoe hy dit oorleef het nie,” sê Landé.

Volgens haar het die valhelm net ’n paar krapmerke op. Adam het ook min beserings aan die res van sy lyf opgedoen.

Sy toestand is stabiel, maar kritiek en hy is nog nie by sy bewussyn nie.

“Hulle het hom al drie keer van die ventilator probeer afhaal, maar sy liggaam cope nog nie. Sy regteroogbank, wangbeen en kakebeen is vergruis en die spiere rondom sy regteroog het geskeur. Sy traanbuis is ook beskadig.”

Adam Willemse word gestabiliseer op die toneel waar die ongeluk plaasgevind het.

Adam is ’n verkoopsman vir Land Rover.

Hul agtjarige tweeling, Aila en Alex, kry berading nadat hulle hul pa op die ongelukstoneel gesien het. Hulle het ook ’n dogtertjie van agt maande, Arialle.

“My tweelingdogtertjie vra veral baie uit, sy vra vir foto’s en maak vir haar pa video’s.”

Dokters is bekommerd dat Adam dalk sy sig kan verloor of breinskade het, maar die skade sal eers bepaal kan word wanneer hy wakker is.

Landé sê dis nou ’n kwessie van “wag, bid en hoop vir die beste”.

“Ek moet cope. My kinders het my nodig.”

Mpumalanga se departement van veiligheid en sekerheid kon nie Vrydagmiddag vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.