Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa se lyk spoel ook uit ná kano omslaan

Die 35-jarige man wat Saterdagaand saam met sy tienjarige seun in die see naby Beachview in Port Elizabeth vermis geraak het, se lyk is Woensdagoggend gekry.

’n Man en ’n vrou wat gaan hengel het, het omstreeks 05:00 op Gert Vermaak (35) se lyk op die strand naby die Beachview Resort afgekom.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê Vermaak se suster het hom op die toneel uitgeken.

Gert Vermaak en sy seun Keith. Foto: Facebook

Vermaak en sy seun, Keith, asook ’n 16-jarige familielid het Saterdag omstreeks 18:00 met ’n kano die see ingevaar om te gaan hengel.

Hulle was na bewering sowat 500 m die see in toe die kano omstreeks 19:00 omgeslaan het.

Die familielid het strand toe geswem en na hul huis in Beachview gehardloop om hulp te ontbied.

Ondanks ’n uitgebreide soektog was daar geen teken van Vermaak en sy seun nie.

Keith se lyk is Maandag in die branders by Beachview gekry. Sy ma het hom uitgeken.

Volgens Janse van Rensburg is die seun se lyk deur beamptes wat die strand gepatrolleer het, raakgesien.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê die seun se lyk is gekry naby die gebied waar hulle vermis geraak het.

’n Geregtelike ondersoek is ingestel.

Kort voordat Keith se lyk Maandag gekry is, het Gerda van Greunen, Vermaak se suster, ’n boodskap van hoop op Facebook geplaas wat lui: “Daar gebeur elke dag wonderwerke. Asseblief, Here, bring Gertjie en Keith terug na ons en hou hulle veilig. Die see is ’n rustige plek waar ons vrede en kalmte vind, moet dit asseblief nie in ’n hel of ’n monster verander nie! Die twee pragtige Vermaakies glo ek is sterk genoeg om enigiets te oorleef. Daar is hoop en my ‘Broer’, ek sal soek totdat ek jou kry, ek weet jy wag vir hulp. Byt net vas, asseblief, moet nie opgee nie!”

Van Greunen het nie Woensdagoggend onmiddellik op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Gert Vermaak  |  Port Elizabeth  |  Beachview  |  Kano  |  Verdrink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.