Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa wat raakgery is, vra vir spoedhobbels voor skool

’n Pa van Bloemfontein wil nou hê spoedhobbels moet in die straat voor sy kinders se skool in Dan Pienaar aangebring word nadat hy voor die skool raakgery is.

Jaco van de Wall (40), ’n rekeningbestuurder by Capitec Bank in Bloemfontein, het Vrydag omstreeks 07:15 sy twee kinders by die Laerskool Willem Postma in Dan Pienaar afgelaai toe hy deur ’n vrou in haar motor raakgery is.

Van de Wall, wat tans in die Mediclinic Bloemfontein behandel word, sê hy het sy bakkie se deur toegemaak en wou om die bakkie stap om sy kinders op die sypaadjie te kry toe die vrou se voertuig hom getref het.

Jaco van de Wall (40) praat Maandag in die Mediclinic Bloemfontein oor die ongeluk Vrydagoggend voor sy twee kinders se skool.Foto: André Damons

Hy onthou nie die ongeluk nie, maar twee ooggetuies het hom vertel wat gebeur het.

“As ’n goue reël stop ek altyd met die kinders aan die sypaadjie se kant en hulle moet daar wag totdat ek hulle kom haal. Die vrou het vinnig gery of beheer oor haar voertuig verloor.

“Ek het vir haar geskree: ‘Stop, kyk waar jy ry.’ Ek het in die lug gespring om die botsing te vermy en dit is toe dat sy my tref. Ek het deur die lug getol en tussen 6 m en 8 m van die bakkie af op die teer beland,” sê Van de Wall.

Hy het kopbeserings opgedoen en sy een bo-arm is gebreek.

Volgens hom het sy seun die ongeluk gesien gebeur. Hy het sy pa se selfoon vir sy juffrou gegee om Helena, sy ma, te bel.

Jaco van de Wall (40) Maandag in die Mediclinic Bloemfontein nadat hy Vrydag voor sy kinders se skool in Dan Pienaar raakgery is.Foto: André Damons

Van de Wall se dogter het nie die ongeluk gesien gebeur nie. Die kinders is “orraait” en kry berading.

“Ek is baie gelukkig. Ek is nie kwaad of suur nie. Dit is sleg wat gebeur het en dit is seker sleg vir die vrou (wat hom raakgery het) ook.

“Ek wil net hê daar moet spoedhobbels aangebring word om dit veiliger te maak vir die kinders. Mense moet weet, waar ’n skool en kinders is, moet hulle stadiger ry, al is jy laat vir ’n afspraak. As dit ’n kind was wat raakgery is, sou hulle oor die kind gery het.”

Die skool sukkel al lank om spoedhobbels te kry, sê Van de Wall.

Jaco Kotzé, skoolhoof, sê hulle het vroeër reeds die munisipaliteit gevra om spoedhobbels in die pad aan te bring, maar het nog geen terugvoering daaroor ontvang nie.

“Een van ons werkers help in die oggende en in die middae om die verkeer te reguleer en ons het padtekens en kegels.

“Vandag (Maandagoggend) ná die ongeluk het almal ’n bietjie bedagsamer en stadiger gery, maar sommige mense gehoorsaam nie die padreëls nie. Spoedhobbels sal baie help.”

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Raakgery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.