Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa weet ná maand steeds nie sy seun is dood ná skietery

’n Pa van Vanderbijlpark weet steeds nie dat sy 18-jarige seun ’n maand gelede by ’n kitskoswinkel doodgeskiet is nie.

Johan Hebler (52) is in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton aan ’n ventilator gekoppel nadat hy op Dinsdagaand 2 Februarie in sy maag geskiet is in die parkeerterrein voor die Slap Chips-kitskoswinkel in Frikkie Meyer-rylaan in Vanderbijlpark.

Sy seun, Nathan, wat vanjaar sy matriekjaar aan die Destinata-skool sou begin, is twee keer getref toe Tommy Phalatsi (49), ’n inwoner van Vanderbijlpark, wild op omstanders geskiet het.

Nathan is later dieselfde aand in die Mediclinic Emfuleni dood.

Nathan Hebler (18) en sy pa, Johan (52), van Vanderbijlpark. Foto: Verskaf

Catherina Hebler, sy ma, het Woensdag aan Netwerk24 gesê “dit voel soos gister” wat haar seun van haar weggeruk is.

“Dit voel vir my asof ek nooit weer uit die nagmerrie gaan wakker word nie! Ek mis my kind so ongelooflik baie en wens ek kon hom net vashou en nie los nie en net die heeltyd vir hom sê hoe lief ek is vir hom.”

Nathan en Hebler het wegneemkos by Slap Chips gaan koop toe Phalatsi in sy goue BMW X5 by die parkeerterrein van die sentrum ingejaag het. Hy het Lewis Towsen (52), die bestuurder van Slap Chips, wat buite die winkel gestaan het, raakgery.

Phalatsi het nadat hy Towsen getref het, ’n wit Isuzu-bakkie, wat voor die winkel geparkeer was, só hard gestamp dat dit omgeslaan het. Hy het daarna wild begin skiet en die Heblers getref.

Jackie Towsen en haar man, Lewis, van Vanderbijlpark. Foto: Facebook/Jackie Towsen

Catherina sê haar man se pad na herstel is soos ’n wipwarit. Hy het vroeër vandeesweek gesukkel met slym op sy longe en het nie genoeg suurstof in sy bloed gehad nie. Sy toestand het Woensdag verbeter. Hy moes al verskeie operasies ondergaan.

“Dit is baie moeilik om sterk te bly, hy (Johan) weet steeds nie Nathan is dood nie.”

Sy sê die gesin se huis is baie stil sonder Nathan en Hebler.

“Nathan is ’n goeie kind en kon nie wag om die jaar ’n leier by sy skool te wees nie en hy het baie uitgesien om klaar te maak met skool die jaar. Dis moeilik vir ons om dit nie meer saam met hom te kan ervaar nie.”

Willem Kriel is op 2 Februarie in Vanderbijlpark doodgeskiet. Foto: Verskaf

’n Roudiens vir Nathan sal eers gehou word sodra Hebler weer tuis is.

Albei Towsen se bene is gebreek toe Phalatsi hom met sy voertuig getref het.

Hy sterk tans aan in die Netcare Milpark-rehabiliteringseenheid in Johannesburg.

Phalatsi het ná die skietery ook vir Willie Kriel (47) in sy kop geskiet waar hy in Duckamsstraat huis toe gestap het.

Kriel is die volgende dag in die Sebokeng- provinsiale hospitaal dood. Phalatsi het daarna na die Global-vulstasie in Sharpeville gery waar hy uit sy motor geklim en homself in die kop geskiet het.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê ’n lykskouing is op Phalatsi gedoen. Die polisie ondersoek twee klagte van moord en twee van poging tot moord.

Tommy Phalatsi (49) Foto: Facebook/Tommy Phalatsi
Meer oor:  Johan Hebler  |  Vanderbijlpark  |  Pa  |  Skietery  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.