Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Paaie eis nóg 2 met botsing teen padversperring

Nóg twee mense is in die middernagtelike ure dood verklaar nadat ’n motor teen ’n padversperring, sowat 8 km buite Oudtshoorn in die Wes-Kaap, gebots het.

Dit kom nadat nege mense Vrydagmiddag in ’n trompop-botsing op die N11, tussen Middelburg en Hendrina, in Mpumalanga dood is.

Die nege mense is dood toe ’n vragmotor en taxi mekaar reg van voor getref het.

Luidens ’n verklaring van Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, was die nege oorledenes almal insittendes van die taxi.

Die ongelukstoneel op die N11, tussen Middelburg en Hendrina, in Mpumalanga. Foto: Verskaf

Volgens Mmusi was agt van die mense onherkenbaar verkool.

Hy sê die groep oorledenes sou Maandag met ’n internskapprogram by ’n plaaslike myn begin. Hulle was glo juis van ’n slypskool in Middelburg afkomstig toe die ongeluk gebeur.

Die bestuurder van die taxi is met ligte beserings in die Life Cosmos-hospitaal in Emalahleni opgeneem.

Die bestuurder van die vragmotor is nie in die hospitaal opgeneem nie.

Volgens Mmusi is die oorsaak van die ongeluk nog onbekend en lede van die departement van gemeenskapsveiligheid en ander owerhede het reeds met hul ondersoek na die voorval begin.

Die noodlottige ongeluk het Vrydagmiddag verkeer op die N11 laat ophoop terwyl die een baan gesluit was. Foto: Verskaf

Gabisile Shabalala, die LUR van gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het ook haar skok oor die voorval in ’n verklaring uitgespreek en ’n beroep op motoriste gedoen om meer waaksaam op paaie te wees.

Die LUR sê sy neem kennis van die toenemende aantal dodelike ongelukke op die N11.

Luidens die verklaring het sy vroeër die week in haar beleid- en begrotingstoespraak aangekondig dat dié pad, weens die aantal ongelukke, een van die paaie is wat meer aandag in die huidige boekjaar sal ontvang.

Intussen het Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, in ’n verklaring bevestig dat twee mense Saterdagoggend omstreeks 00:20 op die De Rust-pad, net voor Oudtshoorn, in ’n motorbotsing dood is.

Africa het in sy verklaring gesê die bestuurder van ’n Volkswagen Citi Golf-motor het vermoedelik beheer oor die motor verloor en teen die padversperrings gebots.

Twee insittendes is op die toneel dood.

Meer oor:  Padongelukke  |  Padsterftes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.