
Die laaste foto wat van die paartjie geneem is. Foto: Verskaf/CNN
’n Pasgetroude Amerikaanse paartjie is dood in ’n motorongeluk minute ná hul troue.
CBS News berig dat Harley Morgan (19) en Rhiannon Boudreaux (20) die hof in Orange County, Texas, Vrydag verlaat het ná hul troue, waarna hulle deur ’n Ford F-250-bakkie getref is. Die paartjie is op die toneel dood.
Die bruidegom se ma en suster was in die motor agter hulle en het glo gesien hoe die ongeluk gebeur en het die paartjie probeer red.
“Die enigste ding wat hulle wou doen, is om te trou en om hul lewe saam te begin. Die twee van hulle het soveel drome gehad,” het Kennia Lashawna Morgan, die bruidegom se ma, aan ’n plaaslike televisiekanaal in Texas gesê.
“Hulle het pas getrou. Hulle was nie eens ’n paar minute getroud nie.”
Die paartjie het glo ’n groot troue beplan vir Desember, maar wou nie langer wag nie.
Bronne: CBS News, USA Today, Dallas News, CNN