SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Pad van R262 m. na vervalle, ongebruikte oord
Die Deneysville- en Jim Fouche-oord-pad wat vir R262 miljoen ontwikkel word. Foto: Mlungisi Louw

’n Splinternuwe teerpad van R262 miljoen word van Deneysville na die Jim Fouché-oord langs die Vaaldam in die Vrystaat gebou – maar die vervalle oord staan al tien jaar leeg.

Die kontrak vir die bou van die teerpad is deur die Vrystaatse regering toegeken aan die maatskappy Sedtrade wat deur die Indiese Docrat-familie van Vereeniging besit word.

Hillary Mophethe, kommunikasiebestuurder van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer, sê die padbouprojek het op 1 Julie 2016 begin en sal op 31 Augustus 2019 voltooi wees.

Zaid Docrat se maatskappy Sedtrade bou die pad, het Nazir Kathrada van die maatskappy se regsafdeling bevestig.

Onbevestigde inligting was dat die familie in die verlede in die oord belanggestel het, maar Kathrada het by navraag gesê Sedtrade en die Docrat-familie is nie van plan om die Jim Fouché-oord te koop of om dit van die regering te huur nie.

Die hekke van die Jim Fouche-oord wat al van 2007 gesluit is. Foto: Mlungisi Louw

Die Vrystaatse departement van openbare werke bestuur die oord.

Agter die geslote hekke is daar onder meer tien huise, 144 rondawels, tennisbane, swembaddens, ’n saal en kafee, alles in ’n uiters vervalle toestand.

Springbokkies wat op die oord se terrein rondloop word glo gejag deur mense wat toegang tot die oord het.

Ingeligtes vertel dat die infrastruktuur vir water en elektrisiteit reeds gesteel is, maar dat daar nog water is vir die regering se visteelprojek, hoewel daar nie meer visse is nie. Die projek het miljoene rand beloop.

Mlungisi Maqubela, hoof van kommunikasie en mediaskakeling van die Vrystaatse departement van openbare werke, sê ’n proses is aan die gang om te adverteer om ’n huurder vir die oord te kry.

Maqubela ontken dat die waterinfrastruktuur na die oord gesteel is.

Hy sê dit is net die elektrisiteitsinfrastruktuur wat weg is. ’n Diefstalklag is by die polisie ingedien.

Oor die swembaddens wat sonder water staan en die tennisbane wat verwaarloos, sê hy: “Die oord is gesluit”.

Oor die visprojek sê hy dat dit die verantwoordelikheid van die departement landbou en landelike ontwikkeling is.

Bouwerk aan die R262. Foto: Mlungisi Louw
Die ingang na die Vrystaatse Jim Fouché-vakansieoord wat al van 2007 agter slot en grendel is, terwyl ’n pad van R262 miljoen deur die Vrystaatse regering daarheen gebou word. Foto: Mlungisi Louw

Navrae oor die visteelprojek is ingedien by Zimasa Mbeu, direkteur vir strategiese kommunikasie en inligtingsdienste van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, maar geen antwoorde is nog ontvang nie.

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê die Jim Fouché-oord was ’n geweldige bate vir die Vrystaat toe dit nog onder private bestuur was.

“Die vorige huurders het die oord as winsgewende sakeonderneming bedryf. Dit het talle toeriste na die Vrystaat gelok. Die oord is ook goed in stand gehou.

“Die provinsiale regering het egter in sy veldtog om sulke kontrakte van witmense af weg te neem, die oord by die vorige huurders teruggevat. Daarna het die eens winsgewende sakeonderneming tot niet gegaan.”

Jankielsohn sê hy glo enige planne om die oord te restoureer, “sal met die doel wees om een of ander ANC-kader van die regerende faksie te verryk”.

“Die oord sal na ’n jaar of twee lyk soos die onbenutte Philip Saunders-oord by Bloemfontein waaraan daar R150 miljoen bestee is terwyl dit nie in stand gehou word nie.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Vaaldam  |  Pad  |  Korrupsie  |  Padwerke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.