Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Padvalke in sop ná doughnuts op die N2

Strafregtelike klagte is ingedien teen die wilde bestuurders wat verlede Sondag die N2-snelweg in Grabouw op horings geneem het.

Nomazwe Bayana. Foto: Facebook

Boonop kan die twee verkeersbeamptes, wat die verkeer gestop het sodat ’n uitasem bestuurder doughnuts kon gooi en drift, geskors word.

Kenny Africa, die provinsiale verkeershoof, het Saterdag aan Rapport gesê die betrokke beamptes het Woensdag briewe ontvang dat hulle redes moet verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie. Strafregtelike klagte is ook ingedien teen elke bestuurder wat betrokke was by dié insident.

“Die kwessie word in ’n baie ernstige lig beskou,” sê Africa.

Lexie du Plessis, verkeersbeampte Foto: Facebook

Vir die verkeersbeamptes Lexi du Plessis en Nomazwe Bayana het alles verlede week verander toe die sowat 300 sportmotors een-een met ’n gebrul langs die N2 aankom en die besige pad begin oorsteek na die bekende Pere­grine-padstal. Dié blink en brullende kavalkade was deel van ’n breakfast run van SA Torque, ’n lewenstyl-handelsmerk wat gratis geleenthede vir petrolkoppe reël. Die motors het vroeër die oggend in Kraaifontein vanaf die Wynland Engen-motorhawe langs die N1 vertrek en via Franschhoek na hul bestemming – die padstal – gery.

Toe die motors die eerste doughnut doen – dis wanneer die motor wilde esse gooi dat die rook uit die bande trek – was die beamptes erg opgewonde, sê Tristan Fourie van Plattekloof naby Kaapstad.

’n BMW gooi “dougnuts” Foto: Videoskermgreep

Volgens ’n kollega het Bayana ’n swak vir vinnige motors.

Een ná die ander motor het glo van die stopteken weggetrek verby die klein skare mense langs die heining en die baniere van Michelin, ’n bandevervaardiger.

Op beeldmateriaal wat binne ure op sosiale media versprei is, word gesien hoe ’n opgewonde Bayana met swaaiende arms na die kameraman stap.

Dié skree “whopaa!” en sê aan Bayana dat daar nog twee motors vir haar is.

Sy stap dan oor die pad en stop die aankomende verkeer. Du Plessis keer aan die teenoorgestelde kant. ’n Wit BMW gooi sy esse, gevolg deur ’n BMW sonder ’n nommerplaat.

Tristan Fourie het vier “doughnuts” gedoen Foto: Facebook

Fourie sê as ’n “ware petrolkop” ry hy toe na die beamptes toe en vra uit oor die BMW wat pas sy doughnut gedoen het. Hy wou weet hoekom hulle nie vir daardie bestuurder ’n boete uitgeskryf het nie en of dit in die haak sou wees indien hý ook ’n doughnut doen?

Die beamptes het ingestem en die verkeer in albei rigtings gestop, sê Fourie. Hy het daarop onder luide toejuiging van die skare én die beamptes vier doughnuts gegooi.

’n Sakevrou van Grassy Park naby Muizenberg op wie se naam die wit BMW (op die video) geregistreer is, sê dis nie háár motor nie. “Ek ry ’n BMW X6 en my man is tans in die buiteland.”

’n Woordvoerder van Peregrine, Robyn de Klerk, sê die organiseerder het toestemming gekry om die laer gedeelte van die parkering vir hul “ontmoeting” te gebruik. Peregrine sou nooit toestemming gegee het as hulle geweet het wat sou volg nie.

“Dit was roekeloos en gevaarlik en het ook verhinder dat ons gereelde kliënte die padstal kon bereik en het daardeur is ons onderneming negatief geraak.”

David van SA Torque wou weens sy werk nie sy van aan Rapport verskaf nie, maar sê hul reëls is “geen gejaag en doughnuts of drifting (wanneer die voertuig skuif as dit om ’n draai gaan) nie”. Hy sê dié gebeure is nie deur SA Torque beplan nie en dat die verkeersbeamptes op eie houtjie opgetree het.

Meer oor:  Verkeersbeamptes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.