Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Padwoede: Man herstel goed

Willem Potgieter (52), die slagoffer van ’n padwoedevoorval in eMalahleni, Mpumalanga, het wonderbaarlik herstel en behoort teen die einde van die week uit die hospitaal ontslaan te word, sê sy broer, Lourens.

Potgieter en sy vrou, Santie (57), is op 20 Julie glo deur vier mans in ’n bakkie van die pad gedruk en Potgieter is so erg aangerand dat hy 17 dae lank in ’n koma was en om sy lewe geveg het.

Willem Potgieter in die waakeenheid van die hospitaal nadat hy in ’n beweerde voorval van padwoede aangerand is.

Die voorval het glo plaasgevind nadat Potgieter volgens Santie die toeter gedruk het vir die bestuurder van ’n Dodge Ram-bakkie.

Ná ’n woordewisseling is die bakkie gebruik om die Potgieters se voertuig van die pad te dwing, en Potgieter het ’n waarskuwingskoot geskiet.

Volgens Santie het vier mans hom oorrompel en bykans ’n halfuur lank aangerand.

Die aanranding het volgens haar eers opgehou toe ’n ambulans op die toneel opdaag.

Santie is glo herhaaldelik met ’n geweer teen die agterkop geslaan.

Dié bakkie behoort glo aan een van die beskuldigdes, Hanno Bierman (30).

Lourens sê hulle wil nie sê in watter hospitaal sy broer aansterk nie omdat hulle steeds vir sy lewe vrees.

Potgieter sterk nou in ’n gewone saal aan nadat hy bykans drie weke in die waakeenheid was.

Sy oogkas is in die aanval vergruis en hy moes rekonstruksiewerk aan sy gesig kry. Hy het ook bloeding op die brein gehad en was aanvanklik aan ’n ventilator gekoppel. Al sy voortande is ook in die voorval uitgeslaan.

Hanno Bierman (30), Pieter de Beer (29) en Hannes Viljoen (28) word van poging tot moord aangekla en moet weer op 1 Oktober in die hof in eMalahleni verskyn.

Die mans wou nie Dinsdag kommentaar lewer oor die beweerde aanval nie en het navrae na hul prokureur, Johan Oelofse, verwys.

Oelofse kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Lourens sê die familie wil nou net hê die regsproses moet sy gang gaan.

“Santie is orraait, maar wil nie met die media praat nie,” sê Lourens.

Die polisie soek nog na ’n vierde verdagte.

Meer oor:  Willem Potgieter  |  Mpumalanga  |  Emalahleni  |  Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.