Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Padwoede-man praat uit die hart
Marius Geldenhuys (47) wat Maandag in ’n padwoedevoorval betrokke was, het Donderdag in ’n koffiewinkel in die Paarl sy dank uitgespreek teenoor mense wat hom en Egan Vorster in hierdie proses ondersteun. Foto: Maygene de Wee

Die man van die Paarl wat Maandag in ’n padwoedevoorval betrokke was, het Donderdag gesê hy het verkeerd opgetree, maar kan dit wat gebeur het, nie verander nie.

Marius Geldenhuys (47) het by ’n koffiewinkel in die Paarl gesê hy aanvaar verantwoordelikheid vir sy optrede.

Geldenhuys en Egan Vorster (26), die jong man van die Paarl vir wie hy Maandag in ’n woedebui in Jan van Riebeeckstraat, Suider-Paarl, met ’n houtkolf gedreig en uitgeskel het, het Donderdag in ’n versoeningsgebaar ontmoet en mekaar om vergifnis gevra.

Geldenhuys het gister gesê hy is baie dankbaar teenoor Vorster vir sy vergifnis.

“Hy is ’n goeie mens en het ’n goeie hart. Ons het saam gebid en seën uitgespreek oor mekaar se lewe.”

Hy het ook gesê met ’n gesindheid van toegeeflikheid en verdraagsaamheid, waar mense meer geduld aan die dag lê teenoor hul medemens, sal baie meer in die samelewing bereik kan word.

Geldenhuys het mense bedank wat hom en Vorster in die proses ondersteun. “Ontvang my wense van vrede in die naam van Jesus.”

Vorster het gisteroggend gesê elkeee verdien ’n tweede kans, ook Geldenhuys.

“Hy het verkeerd opgetree. Hy gaan deur ’n moeilike tyd. Dit kan met enige ander mens ook gebeur.”

Vorster het Geldenhuys as ’n baie nederige mens beskryf. Hy het gesê sedert hy die video van hul ontmoeting en die versoeningsgebaar waar eers Vorster Geldenhuys se voete gewas het en Geldenhuys toe syne, op sy Facebook-blad geplaas het, was daar baie kommentaar.

“Daar was gelukkig meer positiewe as negatiewe kommentaar.

“Daar is mense wat nie wou hê dat ek Marius vergewe nie. Mense wat wou sien dat ek die kwaad met bloed vergeld, maar dis nie wie ek is nie,” het Vorster gesê.

Ook sy ouers is tevrede met die proses wat hy gevolg het.

“My ma was eers baie kwaad vir Marius, maar sy het ook besef dat ons nie kwaad met kwaad kan vergeld nie.”

Hy het gesê sy grootste wens nou is dat daar iemand daar buite is wat vir Geldenhuys ’n werk sal kan aanbied.

“Dis ’n man wat bereid is om hard te werk om vir sy kinders te voorsien. Hy het die kans nodig. Ek hoop van harte daar is mense wat hul hart oop sal maak,” het Vorster gesê.

Sedert die video van hul ontmoeting op sy Facebook-blad geplaas is, is dit reeds 27 000 keer gekyk.

Die video is meer as 490 keer gedeel en meer as 390 mense het hierop kommentaar gelewer.

Meer oor:  Egan Vorster  |  Marius Geldenhuys  |  Paarl  |  Padwoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.