Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Padwoede’-moorde: ‘Ons het vir ons lewe gevrees’

Catherine van Dyk (29) “se wêreld het gaan stilstaan” toe sy hoor haar verloofde, die pa van haar tweejarige blondekopseuntjie, is dood.

Sy en Danie Duvenhage (29) sou in April volgende jaar, ’n dag ná sy 30ste verjaardag, trou. Die twee ken mekaar sedert hul laerskooldae en het in 2016 verloof geraak. Drie skote uit vermoedelik die wapen van ’n taxibestuurder Vrydagaand by ’n vulstasie in Limpopo het die jong paar se toekomsdrome aan skerwe geskiet.

Danie se pa, André (52), is ook doodgeskiet.

Danie Duvenhage (29), sy verloofde, Catherine van Dyk (29), en hul seuntjie, Gideon (2). Foto: Verskaf

’n Oënskynlike padwoede-voorval het gelei tot die noodlottige skietery omstreeks 18:30 by ’n vulstasie in Bandelierkop. Bandelierkop is ’n klein nedersetting digby die N1-hoofweg, sowat 40 km van Louis Trichardt.

Die taxibestuurder (33) is op die toneel in hegtenis geneem en beslag is gelê op sy vuurwapen. Hy het homself glo per ongeluk raak geskiet en is nou onder polisiebewaking in ’n hospitaal, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Twee klagte van moord word ondersoek.

Van Dyk het Sondag gesê klein Gideon is onrustig. “Hy weet iets het gebeur. Hy is nog te klein om te verstaan en het maar onlangs begin praat. Maar hy vra: ‘Pappa?’ Dan sê ek net hy is nie nou hier nie.”

Van Dyk, Danie en Gideon het vroeg Vrydagaand in hul bakkie vanaf hul tuisdorp, Louis Trichardt, met die N1 na Bandelierkop gery.

Hulle sou by André, wat in die hotel daar gewoon het, oornag en die volgende oggend na familie elders ry. “ ’n Taxi het ons van die pad probeer druk en in die baan van aankomende verkeer dwing. Ons het vir ons lewe gevrees. Danie het sy pa (André) in die ry gebel en vertel wat gebeur.”

Volgens Van Dyk het die taxi hulle naderhand verbygesteek en toe baie stadig voor hulle gery. “Ek weet nie of die taxibestuurder wou hê ons moet stop en of hy ons wou dwing om hom verby te steek nie. Hy het die Bandelierkop-afrit geneem en na die vulstasie gery. Ons is met dieselfde afrit na die hotel (naby die vulstasie).”

André Duvenhage en sy seun Danie, wat albei Vrydagaand ’n oënskynlike padwoede-voorval in Limpopo doodgeskiet is. Foto: Facebook/André Duvenhage

Van Dyk het met Gideon by die hotel afgeklim. André het by Danie in die bakkie geklim en vulstasie toe gery. “Ek dink Danie wou die bestuurder van die taxi moontlik oor die padwoede-voorval aanvat,” sê Van Dyk.

Iemand het ’n vriendin van André kort daarna by die hotel gebel en gesê André is geskiet, maar niks van Danie nie. “Ek is vulstasie toe,” vertel Van Dyk. “Ek kon Danie aanvanklik nie kry nie. Toe sien ek mense by die vulstasie se tuin staan. Danie het daar gelê. Ek wou na hom gaan, maar die polisie het my gekeer en gesê hy is nie meer met ons nie. Dit het gevoel of my wêreld gaan stilstaan.”

André se broer, Hannes Duvenhage, en sy vrou, Naomi, het intussen ook ’n oproep oor die skietery gekry. Hannes is van hul huurhuis in Bandelierkop na die vulstasie.

“André het by die petrolpompe gelê en nog geleef. Ek is saam met hom in ’n ambulans na die Louis Trichardt-gedenkhospitaal. Hy het gesê hy sukkel om asem te haal. André wou weet waar Danie is. Ek kon nie vir hom die waarheid vertel nie. Ek het gesê hy moenie worry nie, Danie is orraait.”

Hannes vermoed André is in die lewer getref omdat hy baie gebloei het. “By die hospitaal het hulle X-straalplate geneem. Hy het gesterf tien minute nadat hy na die saal geneem is.”

Mojapelo sê die polisie gaan nie nou meer besonderhede verskaf oor Danie en André se wonde nie omdat dit deel van hul ondersoek is.

Volgens Hannes was André en Danie albei “rustige, liefdevolle mense wat altyd vir ander daar was”.

André het by die petrolpompe gelê en nog geleef. Ek is saam met hom in ’n ambulans na die Louis Trichardt-gedenkhospitaal. Hy het gesê hy sukkel om asem te haal. André wou weet waar Danie is.

André was betrokke by ’n maatskappy wat veiligheidskameras installeer. Danie was ’n tegnikus by ’n internetverskaffer.

“André was vier jaar jonger as ek en my bababoetie,” sê Hannes. “Hy het my altyd gekalmeer wanneer ek opgewerk raak en gesê dit help nie mens doen simpel goed nie. André se kinders was soos my eie, want my kinders is in die buiteland. Ek en Naomi het spesiaal uit die Kaap na Bandelierkop getrek om nader aan hulle te wees.”

Mojapelo het Sondag gesê die polisie hoop ooggetuies kan meer lig werp op wat by die vulstasie gebeur het. “Omtrent al die passasiers in die taxi het tydens die voorval gevlug. Ons kon twee opspoor, by wie ons verklarings sal afneem. Verklarings sal ook van ooggetuies by die vulstasie geneem word.”

Lt.genl. Thembi Hadebe, polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval veroordeel.

• Danie en André laat ook Danie se jonger broer, Deon (22), asook Danie se ma, Amanda van Dyk, agter. Begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.