Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Padwoede: 'Hy was gewild, 'n goeie mens'

Haar seun was geliefd en lewenslustig en het baie vriende gehad. Nicky Botes se lewe is egter kortgeknip ses maande voordat hy sy 38ste verjaardag sou gevier het, sê sy ma, Esther Nieuwoudt. “Hy was ’n goeie mens.”

Nicky Botes Foto: Facebook/Nicky Botes

Botes is Saterdagaand vroeg in Klerksdorp, Noordwes, noodlottig in die kop geskiet in wat vermoedelik ’n voorval van padwoede was. Dis nie duidelik waarom Botes, wat in Schweizer-Reneke woon, in Klerksdorp was nie.

Nieuwoudt het Maandag gesê sy vermoed hy het vir vriende daar gaan kuier. Twee ander mense is blykbaar saam met hom soontoe, maar dis nie duidelik of albei in Botes se voertuig was toe die voorval gebeur het nie.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie is self nog aan die uitpluis wat presies gebeur het. Die mens(e) wat saam met Botes in sy voertuig was, was erg getraumatiseer en kon nie dadelik verklarings aflê nie.

Botes is omstreeks 19:00 Saterdag in die Wilkoppies-woonbuurt in ’n bakleiery met ’n veiligheidswag geskiet. Botes het blykbaar die veiligheidswag probeer verbysteek.

Die twee mans het daarna glo uit hul onderskeie voertuie geklim en met mekaar begin praat, het Myburgh aan Isabel Venter gesê. Later het die veiligheidswag na bewering gery, maar weer stilgehou omdat iets glo na sy voertuig gegooi is. ’n Vuisgeveg het ontstaan.

Die veiligheidswag is glo tydens dié bakleiery aangerand en gewurg. Hy het toe na bewering ’n skoot of skote met sy handwapen geskiet. Botes is op die toneel dood.

’n Lykskouing moet nog gedoen word om te bepaal presies hoeveel keer hy geskiet is, sê Myburgh.

Tobie de Jager, eienaar van die Prowatch-veiligheidsmaatskappy in Klerksdorp, het Maandag bevestig dis een van hul werknemers wat aangerand is.

Die gebeure is tragies, maar ons gaan nie verdere kommentaar lewer nie omdat die polisie alles nou ondersoek.

“Hy het hoofsaaklik kopbeserings opgedoen. Hy is ná die voorval by ’n hospitaal behandel, maar dieselfde aand ontslaan. Die gebeure is tragies, maar ons gaan nie verdere kommentaar lewer nie omdat die polisie alles nou ondersoek.”

Nieuwoudt sê haar seun het beplan om binnekort weer op ’n plaas in Amerika te gaan stroop. “Hy het goeie geld verdien toe hy in die verlede ’n paar jaar daar gewerk het.”

Botes het ’n tienjarige seun. Hy was nie getroud nie. Hy het saam met sy pa, Nico sr., motorherstelwerk by hul onderneming in Schweizer-Reneke gedoen.

Botes word ook oorleef deur sy stiefpa, Peet Nieuwoudt, stiefma, Sonnie Botes, en ’n broer, Herman Nieuwoudt. “Daar was geen probleme tussen ons nie. Ons was so ’n happy family en het Nicky saam grootgemaak,” sê Esther.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

• Myburgh met Maandag gesê ’n klag van moord word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. “’n Besluit oor vervolging sal waarskynlik eers geneem word wanneer die ondersoek afgehandel is.”

Die veiligheidswag het ook ’n aanklag van aanrading met die doel om ernstig te beseer ingedien.

Meer oor:  Klerksdorp  |  Noordwes  |  Padwoede-Voorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.