Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pannekoek-tannie ‘van ons gesteel’, sê dr. Wollie
Die "pannekoektannie", Anna Herbst, se kis Donderdag voor in die Klipkerk in Bloemfontein. Foto: Marita Herselman

“Anna is van ons weggesteel.”

So het dr. Wollie Grobler op die vermoorde Anna Herbst (61), Bloemfontein se “pannekoektannie”, se troosdiens Donderdag in die Klipkerk in die stad gesê.

Anna Herbst (61), Bloemfontein se “pannekoek-tannie”, is Saterdagoggend in haar huis vermoor.

Sy is vroeg Saterdagoggend in haar huis in Martindale, buite Bloemfontein, vermoor toe haar huis aan die brand gesteek is. Sy was in haar slaapkamer vasgebind.

Drie mans tussen 19 en 20 jaar oud is vir die moord in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

Grobler het sy boodskap op Psalm 23 geskoei en verwys na die twee kante van die lewe wat ter sprake is, soos die teenstelling van groen weivelde en waters van vrede met die doodskaduwee.

Hy het gesê Dawid het as skaapwagter ook die negatiewe van die lewe geken. Dawid het van die bedreigings geweet, van die wilde diere wat sy skape wil verskeur, hom wil beroof.

“Jy bly in veiligheid, jy het vrede en dit gaan goed met jou. Die volgende oomblik is jy in die koerante, maar jy’s dood. Die volgende oomblik word ’n familie uitmekaar geruk deur wat met haar gebeur het.”

Anna is weggesteel, maar haar siel was veilig – wie sy in haar gees en wese is, het Grobler gesê.

“Haar liggaam is dalk weggeneem, maar niks en niemand kan haar skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus is nie, sê Paulus in Romeine.”

God was die heeltyd by haar, hy het haar deurgedra na sy hemel toe, het hy gesê.

“God is ook by jou om jou hierdeur te dra.”

Die lied “No Longer Slaves” is voor die preek op versoek van die familie in die kerk gespeel. Van die lirieke in die lied lui: “I am no longer a slave to fear, I am a child of God.”

Daar waar Anna nou is, is daar geen vrees nie, geen bedreiging, geen angs nie.

“Daar waar Anna nou is, is daar geen vrees nie, geen bedreiging, geen angs nie,” het Grobler gesê.

Hy het na die feesmaal in die psalm verwys en aan die roubeklaers gesê hulle moenie die insig dat die lewe ’n fees is, verloor nie.

“Moenie dat iets soos wat met haar gebeur het, jou van jou vrede, waters van rus, krag en blydskap beroof nie.”

Anneke Rossouw, Herbst se dogter, het in haar huldeblyk gesê haar ma het altyd gesê sy wil nie as haar kinders op vakansie gaan, van hul dood in die koerant lees nie.

“En nou, Ma, het jy sommer die voorblad van die koerant gehaal,” het Rossouw gesê.

“Ma, ons is verslae, kwaad, hartseer, geskok. Ons harte is stukkend. Wie kon so ’n aaklige ding aan jou doen? Maar ons gaan fokus op die goeie en die mooi dinge wat jy vir ons agterlaat.”

Sy het haar ma onder meer as hardwerkend, ’n ystervrou en “ ’n boervrou in murg en been” beskryf.

Benewens Rossouw, laat Herbst haar seun, Stoffel (47), en ’n kleinseun, Gustin Rossouw (14), agter.

* Herbst het elke week van Donderdag tot Saterdag pannekoek by die D&J Vleismark in die Generaal De Wet-voorstad verkoop.

Meer oor:  Anna Herbst  |  Moord  |  Gedenkdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.