Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Parkies rou oor ‘drie musketiers’
’n Maatjie van die drie oorlede meisies het ’n briefie saam met die blomme voor die Laerskool Menlopark in Pretoria gaan neersit. Foto: Deaan Vivier

Sy onthou hulle as die “drie musketiers” van die Voortrekkerspan waarin hulle was.

So sê Lucinda van der Vyver, wie se dogter Marli saam met haar twee maats, Ronel Engelbrecht en Nina Strydom, verongeluk het.

Ronel se ma, Mariëtte is ook dood toe sy Sondagmiddag skynbaar beheer verloor het oor haar Nissan-sportnutsvoertuig op die N4 tussen Bronkhorstspruit en Pretoria naby die R568-afrit.

Hulle het die naweek die Voortrekkers se plaaslewe-spesialisasienaweek naby Belfast in Mpumalanga bygewoon.

Mariëtte (52) was die afgelope tien jaar by die Kruithoring-kommando in Pretoria betrokke en was ook die Dassies-span se heemraadslid.

Die 11-jarige meisies, lede van die Dassies-span, het veral uitgesien na die afgelope naweek se kamp omdat al die ander kampe vanjaar weens Covid-19 afgelas is.

“In die Dassies-spannetjie was hulle die drie musketiers, want hulle was altyd bymekaar,” sê Van der Vyver.

Die drie meisies het ook in drama belang gestel.

Marli was ’n social butterfly met ’n ongelooflike groot vriendekring, sê Van der Vyver.

Haar gedenkdiens word Saterdag 10:00 vanuit die NG kerk Daspoort in Keeromstraat gehou.

“Sy was ’n omgee-kind wat altyd drukkies uitgedeel het. Ons moes altyd raas en sê ‘Marli, ’n mens kan nie net enigiemand druk nie’,” sê Lucinda.

Bosse kleurvolle blomme ter herdenking van Marli van der Vyver, Ronel Engelbrecht en Nina Strydom buite die Laerskool Menlopark in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Haar pa, Jaco, voeg by dat sy ook altyd ander mense wou help.

“Sy was ’n warrelwind-kind en altyd op pad êrens heen,” sê Lucinda.

Marli het ’n groot liefde vir diere gehad en wou graag eendag ’n veearts word.

Sy was ook baie kunstig en gek oor teken. Langs haar huiswerk was daar altyd ’n prentjie in wording.

Marli was baie besorgd oor haar sussie, Karla (13), wat ’n spiersiekte het.

“Marli was nooit skaam oor haar sussie nie en was altyd so opgewonde om vir almal te vertel dáái is haar sussie,” sê haar ouers.

Nina was die enigste kind van Jaco Strydom en Suzanne Swart.

Haar gedenkdiens word Vrydag 10:00 gehou. Die plek waar dit aangebied sal word, sal nog bevestig word.

“Dit gaan nie baie goed nie. Dit bring darem ’n bietjie vertroosting dat hulle (die drie maats) saam is,” sê Suzanne.

Hul dogter sou altyd haar kos met kinders gedeel het wat nie iets het om te eet nie en haar sakgeld vir die bedelaars by verkeersligte gee.

“Sy was ’n baie saggeaarde kind. En dit is hoe ons haar sal onthou – as iemand wat altyd haar maats en die mense om haar eerste gestel het.”

Jaco en Suzanne onthou veral ’n keer op kleuterskool toe iemand Nina se beste maatjie se speelding gevat het.

“Sy het die rook uit daai kind gebyt,” skerts hulle.

Nina het graag tyd saam met haar ouers deurgebring en was mal daaroor om in die water te baljaar.

Mariëtte en Ronel word Donderdag saam begrawe en daarna sal ’n gedenkdiens om 11:30 vanuit die NG kerk Stellastraat gehou word.

Blomme is neergelê by die Laerskool Menlopark in Pretoria se hoofingang vir die drie meisies wat dood is. Foto: Deaan Vivier

Hulle word oorleef deur Dawie (eggenoot en pa) en ouboet, Christiaan (16).

“Dit is moeilik as die helfte van jou huisgesin uitgewis is. Sy ma was sy rolmodel,” sê Dawie.

“ ’n Mens mis hulle – as hulle so skielik weggevat word, is dit net ongelooflik swaar.”

Hy onthou sy dogter as iemand wat altyd doenig was met iets. As sy nie gebak het nie, het sy saam met haar pa fietsgery. Ronel het nog onlangs die gesin se huis met Kersversierings opgemaak.

“As sy ’n ding gedoen wou hê, dan was sy vasbeslote om dit dadelik aan te pak. Sy was ook ’n bietjie teruggetrokke, maar saam met haar maatjies sou jy dit nie kon raai nie.”

’n Mens mis hulle – as hulle so skielik weggevat word, is dit net ongelooflik swaar.

Ronel was ook vreeslik lief vir kuns.

Dawie en Mariëtte sou op 20 Desember hul 23ste huweliksherdenking gevier het.

“Sy was baie borrelend en kon lekker gesels. Sy was die dokter in die huis en het heerlike kos gemaak,” sê Engelbrecht.

“Sy was baie entoesiasties en het alles vir die kinders gedoen. As hulle iets nodig het, dan ‘Takealot’ sy.”

Bespiegelings dat ’n moontlike meganiese fout vermoedelik veroorsaak het dat Mariëtte beheer oor die voertuig verloor, is nog nie bevestig nie.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê ondersoeke na die oorsaak van die ongeluk duur voort.

Intussen is kleurvolle bosse blomme, foto’s en briefies neergelê by die Laerskool Menlopark se hoofingang waar die drie meisies leerlinge in gr. 5 was.

Marli van der Vyver
Mariëtte Engelbrecht
Dawie en Mariëtte Engelbrecht saam met hul kinders, Ronel en Christiaan. Die foto is op Ronel se 11de verjaardag op 20 Oktober geneem.
Ronel Engelbrecht
Nina Strydom op verlede jaar se Voortrekkerkamp op Swartvlei in die Wes-Kaap.
Ronel Engelbrecht, Nina Strydom en Marli van der Vyver op die afgelope naweek se Voortrekkerkamp in die omgewing van Belfast, Mpumalanga.
Nina Strydom saam met ’n jarelange goeie vriendin, Megan Roux. Hulle is vriende sedert hulle drie jaar oud was.

“Parkies rou. Marli, Ronel, Nina. Julle bly vir altyd in ons harte,” lui ’n boodskap teen die skoolmuur.

Meer oor:  Motorongeluk  |  Voortrekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.