Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Parktown Boys-kamp: Enock (13) se lyk gekry

* Die lyk van Enock Mpianzi (13) van die Parktown Boys High School in Johannesburg is gekry.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het die nuus op Twitter gedeel.

Kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het aan Netwerk24 bevestig 'n lyk is gevind, en Enock se ouers gaan hom nou uitken.

Enoch Mpianzi
Enoch Mpianzi (13) se lyk is Vrydagoggend langs die Krokodilrivier gekry. Foto: Felix Dlangamandla


Enock Mpianzi (13) van die Parktown Boys High School in Johannesburg was reeds vir 24 uur lank vermis voordat die polisie se hulp ingeroep is.

Hy het vermis geraak terwyl hy en ander gr. 8-leerlinge van die skool aan ’n wateraktiwiteit op ’n oriënteringskamp by ’n lodge buite Rustenburg in Noordwes deelgeneem het.

Enock Mpianzi, Parktown Boys High
Enoch Mpianzi, 'n Graad-8-leerling van Parktown Boys High, het Woensdag vermis geraak. Foto: Facebook / Parktown Boys' High School

Die bus met skoolkinders is volgens ’n ouer wie se kind ook op die kamp was, Woensdag omstreeks 10:00 by die skool weg vir die rit van sowat 3 uur na Nyati Bos en Rivier Wegbreek wat in Beestekraal, sowat 25 km buite Rustenburg en 60 km buite Brits geleë is.

Volgens ’n verklaring van die skool het die kinders aan ’n wateraktiwiteit deelgeneem nadat hulle by die lodge aangekom het.

Volgens die skool se verklaring is daar “Donderdagoggend besef die seun word by die kamp vermis”.

Kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie is Donderdag omstreeks 15:00 van sy verdwyning in kennis gestel.

Volgens haar was die wateraktiwiteit Woensdag omstreeks 15:00 gehou.

“Hulle het aan ’n vlotboukompetisie deelgeneem. Hulle is in groepies verdeel en het met hul vlotte op die Krokodilrivier deelgeneem,” sê Myburgh.

Dit blyk dat die stroom egter baie sterk was omdat die sluise oop was.

“Die vlot waarop die seun was het omgeslaan. Dit is die laaste keer wat hy gesien is. Hulle het Donderdag die register geneem en besef die seun is weg,” sê Myburgh.

parktown boys high
Die verklaring wat die skool op sy Facebookblad geplaas het oor Enock Mpianzi se verdwyning.

Polisieduikers en honde is na die toneel nadat die polisie in kennis gestel is om te help met die soektog.

Die soektog is egter teen 19:00 afgelas en is vroeg Vrydagoggend hervat.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Vrydagoggend na die toneel gegaan waar die soek-en-reddingspanne die soektog na Mpianzi voortgesit het.

Sy ouers was ook op die toneel.

Die kamp is gekanselleer en die res van die gr. 8-leerlinge was op ’n bus op pad terug skool toe met ’n verwagte aankomstyd van 10:15.

Die soek-en-reddingspanne het Vrydagoggend hul soektog voortgesit. Foto: Twitter/ Panyaza Lesufi

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, op die toneel. Foto: Twitter/Panyaza Lesufi

Volgens die ouer met wie Netwerk24 gepraat het, het van die matrieks die onderwysers na die kamp vergesel.

“Ek het nog nie met my kind gepraat nie. Ons is net in kennis gestel om die kinders te gaan afhaal,” sê hy.

Die kamp sou tot later vandag geduur het.

Kim Rowing van die skool se beheerliggaam het by navraag gesê Lesufi het opdrag gegee dat hulle nie met die media oor die aangeleentheid mag praat nie.

’n Nuuskonferensie word om 13:00 gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.