Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Parktown-tragedie: Hartseer skool neem afskeid
Andile Dlongwana
Andile Dlongwana, die skool se onderhoofseun, lei Enock Mpianzi se familie in ’n erewag. Foto: Felix Dlangamandla

“Dit is nou al die norm vir my om doodsertifikate eerder as rapporte uit te reik. Ons het nog nooit met die Here se wil gestry nie, maar ons pleit nou: Genoeg is genoeg.”

So het Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderrig, Dinsdag in die roudiens vir Enock Mpianzi gesê.

Enock, ’n leerling aan die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, het vermoedelik op ’n oriënteringskamp in Noordwes verdrink. Hy is een van minstens drie Gautengse leerlinge wat sedert die begin van die skooljaar gesterf het.

Lesufi het die leerlinge in die stampvol skoolsaal aangemoedig om op hul skoolwerk te fokus.

“Dit maak nie saak hoe moeilik dit raak nie, moenie julle steur aan die bespiegelings in die media nie. Los dit vir die departement.”

Shadrack Intamba troos sy ma, Anto Mpianzi, terwyl hulle deur die erewag stap. Foto: Felix Dlangamandla

Enock se lyk is op 17 Januarie, amper 48 uur nadat hy tydens ’n wateraktiwiteit verdwyn het, gevind.

Enock was die jongste van sy ma, Anto Mpianzi, se vier seuns. Sy het langs Enock se pa, Guy Intamba, op die verhoog gesit en ontroosbaar gehuil.

Die diens is gelei deur eerw. Trevor Slade, ’n oudleerling van die skool, wat met gebed geopen het.

Daarna het oudleerlinge van die Brixton Primary School, wat verlede jaar saam met Enock in gr. 7 was, gesing.

Sy beste vriendin, Mpho Molelekeng, het gesê dat Enock haar altyd met wiskunde gehelp het. “Ons deel soveel herinneringe en grappies. Hy het nooit met enigiemand baklei nie,” het sy gesê.

Hy was glo ook ’n uitmuntende skaakspeler.

Enock se oudste broer, Yves Kodiemoka, het ’n brief van hul ander broer Mordecai Intamba voorgelees, terwyl die tweede oudste broer, Shadrack Intamba, ook ’n boodskap gelewer het.

Dit is nou al die norm vir my om doodsertifikate eerder as rapporte uit te reik. Ons het nog nooit met die Here se wil gestry nie, maar ons pleit nou: Genoeg is genoeg.
Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderrig, lewer ’n boodskap in die gedenkdiens van Enock Mpianzi. Foto: Felix Dlangamandla
Janine Kodiemoka en Anto Mpianzi, Enock Mpianzi se ma en ouma, in die skoolsaal. Foto: Felix Dlangamandla
Groot ruikers rose is in die saal geplaas. Foto: Felix Dlangamandla

“Ek en my broer het nie altyd oor die weg gekom nie. Hy wou nooit leer nie, maar het my elke keer verbaas en steeds goed gevaar. Dis hoe spesiaal hy was,” het Shadrack gesê.

Slade se boodskap aan die skool en die familie was een van hoop. “Jesus sal ons herder wees en God sal al ons trane afvee,” het hy gesê.

Hy het die leerlinge verseker dat al lyk dinge by die skool nou donker, sal dit beter gaan.

Prince Lengoasa het ’n trompetsolo van die lied “Amazing Grace” gespeel.

André de Wilzen, die skool se kultuurhoof, het verduidelik dat elke matriekgroep met ’n erewag en vergesel deur die skool se orkes hul hoërskoolloopbaan afsluit.

“Enock sou in 2024 gematrikuleer het en aangesien hy nie die voorreg gaan hê om deur die erewag te stap nie, wil ons vandag sy ouers en familie vra om dit namens hom te doen.”

Die orkes het “The Last of the Mohicans” gespeel. Enock word Saterdag in Kensington begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.