Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pas afgetrede reislustige in rystoel ná val in hyser

’n Onderneming wat met die installasie van ’n hyser in ’n woonhuis gehelp het, ondersoek nog wat skeefgeloop het toe die kabel van dié hyser gebreek het en ’n 65-jarige vrou beseer is.

Riekie Greyling se lewe het handomkeer verander toe die hyser in die huis van ’n vriendin in Midrand, Gauteng drie meter in die skag afgetuimel het.

Riekie Greyling in die waakeenheid van die hospitaal. Foto: Facebook

Greyling het na ’n loopbaan in die media, onlangs afgetree en het planne gehad om die wêreld vol te reis. Maar nou moet sy maande lank in ’n rolstoel herstel.

Haar hakskene is vergruis terwyl haar rug, borsbeen, arm en haar vinger gebreek is. Sy sterk nog in die waakeenheid van ’n hospitaal aan.

“Die mediese koste gaan waarskynlik miljoene rande beloop, en sy het net ’n hospitaalplan wat nie alles sal kan dek nie,” het Ansi Buitendag, haar vriendin, vertel.

Dit was in Buitendag se huis waar Greyling op Sondag 30 September in die hyser geklim het. Buitendag het haar vriendin aangeraai om die hyser pleks van die trappe te gebruik omdat sy longontsteking gehad het.

Sy was amper op die tweede vloer toe die kabel breek.

Ansi Buitendag kyk op in die skag van die hyser waar haar vriendin, Riekie Greyling geval het. Foto: Christiaan du Plessis

“Sy het met ’n oorverdowende slag net hier voor my voete beland. Daar het ’n groot plas bloed in die skag bly lê,” sê Buitendag, wat self berading na die voorval kry.

Sy sê sy voel sleg oor wat met haar vriendin gebeur het. Mense het die hyser gereeld gebruik.

“Sy, my beste vriendin, gaan my waarskynlik dagvaar. Ek sal my deel doen. Maar ek wil ook hê dat die mense wat betrokke was met die installasie, verantwoordelikheid aanvaar indien daar drooggemaak is. Ons is besig om regsadvies in te win.”

Die hyser is 18 maande gelede geïnstalleer omdat Buitendag ’n heupvervanging gehad het. Die onderneming wat met die installasie gehelp het, se naam word op versoek van Buitendag weerhou.

Die eienaar van dié onderneming het by navraag gesê hulle weet nog nie wat daartoe gelei het dat die kabel gebreek het nie. ’n Gedeelte van die werk is aan ’n onafhanklike individu uitgekontrakteer en die kabel is van ’n ander vervaardiger bekom, sê die eienaar.

Hy beweer hy het uitdruklik aan Buitendag gesê die hyser kan net gebruik word om goedere te vervoer.

Ansi Buitendag by die hyser waar haar vriendin, Riekie Greyling, geval het. Foto: Christiaan du Plessis

Buitendag betwis die opmerking.

“Die hele rede hoekom ek dit laat installeer het was oor my heupvervanging en hy het dit geweet,” het sy gesê.

Volgens die installeerders is die kabel veronderstel om een ton te kan weerstaan. Die hyser weeg net 260 kg.

Intussen gaan dit goed met Greyling, sê Buitendag.

“Sy is ’n baie positiewe mens. Daar is oomblikke wat sy huil, maar dit is waarskynlik omdat sy getraumatiseer is.”

Die twee vriendinne sou binnekort na Indië reis, maar dit is nou van die baan.

“Die kabel wat gebreek het is nie ’n klein foutjie nie. Sommige foute kan lewens verwoes,” sê Buitendag.

Meer oor:  Midrand  |  Gauteng  |  Besering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.