Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pa’s hoor: ‘Julle het geen regte’

In twee voorvalle van oordadige en hardhandige polisieoptrede het munisipale wetstoepassers aan die Oos- en die Weskus die ouers van jong kinders voor hulle in hegtenis geneem weens nietige oortredings van die inperkingsregulasies.

Ludwig en Mari Gericke en hul kinders, Issi (3) en Jan (10 maande). Foto: Marzahn Botha

In Ballito, aan die KwaZulu-Natalse Noordkus, het metropolisielede die aangekeerde mense toegesnou dat hulle “geen regte het nie”; en in Dwarskersbos, aan die Weskus, is ’n pa met ’n tien maande oue baba in sy arms in hegtenis geneem “om ’n voorbeeld van hom te maak” en omdat hy “geen respek vir die land en die president het nie”.

In albei gevalle is die betrokke amptenare in ’n blitsige ondersoek deur hul onderskeie munisipaliteite van blaam onthef.

Die inhegtenisnemings is gemaak enkele dae voordat regter Hans Fabricius in ’n siedende uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria ingeklim het onder die regering vir sy vertrapping van mense se regte tydens die inperking. Fabricius het gesê die virus kan in toom gehou word deur die regulasies, “maar wat is die punt as die resultaat van kras toepassing van regulasies hongersnood, ’n ekonomiese woesteny en totale verlies van vryheid, waardigheid en veiligheid van die persoon meebring?”

' Die vloere was yskoud.’

Die ramptoestand is geen “algemene lisensie” vir die polisie en weermag om mense hardhandig te behandel nie, het hy gesê.

In een van die mees flagrante voorbeelde daarvan het amptenare in Ballito verlede Sondag in ’n fisieke toutrekkery met ’n pa en sy jong kind betrokke geraak toe ’n polisieman die kind gegryp en die pa probeer het om die kind te bevry.

Die amptenare was besig om mense in hegtenis te neem wat, volgens hulle, onwettig op die Shaka’s Rock-strand geloop het. Altesaam 11 mense is die oggend toegesluit.

“Dis stupid, man. Ons leef in ’n polisiestaat! Hulle wou ’n voorbeeld van ons vir die land gemaak het,” het een van die 11 Saterdag aan Rapport gesê. Sy wou nie geïdentifiseer word nie.

Verkeersman Jerome Pedro

In ’n video van een van die inhegtenisnemings kan gesien word hoe ’n polisieman ’n vierjarige kind gryp en hoe die pa hom agternasit om sy kind terug te neem. Die kind skree histeries, terwyl die pa die kind terugneem en aansê om “na jou tannie” te gaan. Die man, wie se naam nie aan Rapport bekend is nie, is blykbaar ’n plaaslike dokter. Die vrou sê hy was so getraumatiseer deur gebeure dat hy in die polisiekantoor begin huil het.

“Hy was baie bleek in sy gesig. Ek het hom gevra of hy oukei is. Hy het gesê hy is bang vir die onthalwe van sy twee kinders, wat by die kompleks moes agterbly.”

Sy en haar vriend het dié oggend in die toegelate tydgleuf gaan stap in die rigting van die strand.

“Maar ons was nie op die strand nie. Ek het tekkies en gimklere aangehad. Ek sal nie met tekkies op die strand stap nie.”

’n Skermgreep uit die video waarin twee munisipale amptenare ’n kind by sy pa afvat om die pa te kan in hegtenis neem.

Op die strand was wel ’n paar drawwers en ander mense wat geoefen het. Die vrou en haar vriend het omstreeks 08:30 omgedraai sodat hulle teen 09:00 terug kon wees by die woonstel. Dis toe dat munisipale amptenare in ongemerkte voertuie op hulle toeslaan. Sy sê onder die groep wat in hegtenis geneem is, was ’n swanger vrou en ’n egpaar van 78 en 81 jaar.

By die polisiekantoor is hulle een-een toegesluit.

“Die vloere was yskoud. Ons het gemufte brood gekry. Ek ruik nou nog daardie piepiereuk, wat oral was.”

Sy sê een van die amptenare het aan haar gesê: “You have no rights.” Hulle is daarna op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Luidens berigte het die KwaDukuza-munisipaliteit die afgelope week aan IOL gesê die twee amptenare wat daarvan beskuldig is dat hulle die kind in die video hardhandig hanteer het, is in ’n interne ondersoek van alle blaam onthef.

Een van die polisieselle waarin 11 mense een-een op Moedersdag aangehou is nadat munisipale amptenare hulle daarvan beskuldig het dat hulle onwettig op die strand in Ballito was.

Hulle het glo kragtens die Kinderwet opgetree toe hulle die kind van sy ouer moes skei en na veiligheid bring.

Die munisipaliteit het nie op skriftelike navrae van Rapport gereageer nie.

Intussen het AfriForum gesê sy private vervolgingseenheid ondersoek die voorval. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hulle wil agter die kap van die byl kom om vas te stel of strafregtelike klagte teen die amptenare ingestel moet word.

In die voorval in Dwarskersbos – ’n Weskusdorpie met minder as 700 inwoners sowat 150 km noord van Kaapstad – is ’n jong argitek verlede Saterdag in hegtenis geneem omdat hy na bewering ’n plaaslike verkeersman belemmer het in die uitvoering van sy pligte. Die 34-jarige Ludwig Gericke, sy vrou, Mari, en hul kinders, Issi (2) en die tien maande oue Jan, het strandlangs na die plaaslike winkel gestap. Ingevolge ’n toegewing deur die plaaslike polisiebevelvoerder is dit wettig om in Dwarskersbos op die strand te stap.

Op die strand het sy vrou gesê sy en Issi gaan gou winkel toe. Ludwig, met Jan in ’n buidelsak op sy bors, het saam met hul hond op die strand gewag toe ’n munisipale wetstoepasser, later geïdentifiseer as Jerome Pedro, na hom aangehardloop kom en op hom skreeu: “Julle breek die lockdown. Hoekom is julle op die strand?”

Ludwig sê hy het aan die verkeersman gesê hy is op pad huis toe, sy rug op hom gedraai en begin aanloop. Pedro het hom toe aan sy arm gegryp en aan hom begin trek. In daardie stadium het Mari en Issi van die winkel aangekom en die kinders het histeries aan die huil gaan.

Pedro het intussen sy kollega oor die radio geroep. Toe dié kollega, Tertius Pool, opdaag, het Pedro aan hom gesê om Ludwig te boei “omdat hulle keelvol is vir die mense van Dwarskersbos . . . omdat hulle eenvoudig nie wil luister nie”.

Hulle is toe na hul motor geneem waar hulle vir Mari gesê het hulle gaan Ludwig oor die naweek aanhou “en dat sy hom Maandag kan gaan haal”. Hy is na die polisiekantoor in Laaiplek geneem waar sy vingerafdrukke geneem is.

Hy is uiteindelik net ná 12:00 vrygelaat. Hy moet op 24 Junie in die hof verskyn.

Gericke sê die amptenare sit in hul motors en wag dat die horlosie 09:00 slaan voordat hulle uitspring en begin boetes uitdeel.

“Dis ’n absolute lokval.”

Hy het Vrydag aan Roman Cabanac, aanbieder van The Morning Shot op YouTube, gesê dit voel of hulle “gejag” word. “Dit voel of die polisie en verkeersbeamptes jag maak op ons. Die feit dat hulle gesê het hulle wil ons ’n les leer, laat my voel hulle wil ons bykom, hulle wil ons nail.

“Ek is nie ’n misdadiger nie. Ek is baie kwaad.”

Adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit, het gesê hulle het ná Rapport se navrae die voorval ondersoek en is tevrede dat die inhegtenisneming nie onbehoorlik was nie. Gericke is in hegtenis geneem omdat hy amptenare in die uitvoering van hul pligte verhinder het, het sy aan Pieter Malan gesê.

“As hy net saam met Pedro geloop het sodat hy vir hom ’n boete kon uitskryf, sou niks hiervan gebeur het nie.”

Hulle het nie vir Gericke gekontak tydens hul ondersoek nie, maar staatgemaak op die “beëdigde verklaring” wat Rapport aan die munisipaliteit gestuur het en waarin Gericke die gebeure uiteensit. Die dokument was egter nie beëdig nie en Gericke sê hy het nooit ’n beëdigde verklaring afgelê nie.

Linde het toegegee dat dit nie ’n oortreding is om op Dwarskersbos se strand te loop of om enige tyd van die dag winkel toe te loop nie.

Sy het nie geantwoord op ’n vraag waarom Pedro dan vir Gericke wou beboet nie.

Volgens haar is 837 mense al sedert die begin van die inperking in die Bergrivier- munisipale gebied (wat nege dorpe insluit) gearresteer.

Meer oor:  Hanlie Linde  |  Ludwig Gericke  |  Jerome Pedro  |  Hans Fabricius  |  Dwarskersbos  |  Ballito  |  Polisie  |  Arrestasies  |  Weermag  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.